Tuesday, May 21, 2013

Afrikanervryheid en -volkseenheid

Print Friendly

Daar het die afgelope paar weke hewige debatte gewoed op Praag se blog oor die kwessie van eksterne selfbeskikking vir Afrikaners, maar die meeste deelnemers was dit eens dat Afrikaners sal móét as ‘n saak van dringendheid ‘n stuk grondgebied afbaken waarop hulle eksterne selfbeskikkingsaansprake kan berus. OASE het hierdie waarheid lankal besef en werk volstoom aan die identifisering van sodanige gebied. Trouens, die breë begrensing van ‘n afgebakende gebied is reeds vasgestel en bestaan uit meer as een permutasie.

In OASE se doelstellings het ons uit die staanspoor dit duidelik gemaak dat so ‘n grondgebied vir Afrikaners se eksterne selfbeskikking sal moet voldoen aan ‘n aantal basiese kriteria wat soos volg opgesom kan word:

Internasionale regsvereistes

Die debatte waarna ons hierbo verwys het die noodsaaklikheid van voldoening aan internasionale regsvereistes en –riglyne weer eens beklemtoon. Sommige vaandeldraers van Afrikaners se vryheidstrewe het hierdie allerbelangrikste kriterium ontken, maar besef nou dat die navorsing wat OASE hieroor gedoen het en steeds doen, onmisbaar is. Wat help dit ‘n stuk grondgebied word op allerlei gronde geïdentifiseer, maar dit voldoen nie aan internasionale regsvereistes en –riglyne nie? Wat help dit die proses wat gevolg word vir afskeiding van die RSA-eenheidstaat bevredig ‘n aantal vryheidstrewende Afrikaners se verwagtinge, maar dit voldoen nie aan internasionale regsvereistes en –riglyne nie? Dit sal die RSA-regering al die nodige skietgoed gee om te sorg dat Afrikaners nie vryheid kry in ‘n soewereine staat nie. Die ANC en hul bondgenote is die wettig verkose regering van ‘n staat met volle soewereiniteit wat VN-lidmaatskap geniet en wat selfs op die VN se veiligheidsraad dien; ons durf dit nie te ignoreer in ons soeke na vryheid nie.

Alle internasionale regskenners is dit eens dat die verkryging van grondgebied ter wille van ‘n volk se eksterne selfbeskikking (territoriale soewereiniteit) in die moderne wêreld slegs kan geskied indien die grondgebied en die prosesse wat gevolg word internasionale erkenning geniet. Hierdie gegewe voorveronderstel dat Afrikaners se afgebakende gebied en die prosesse wat
gevolg word om territoriale soewereiniteit oor daardie gebied te verkry, aan alle internasionale regsvereistes en –riglyne sal moet voldoen, anders sal die Afrikanerstaat nooit internasionale erkenning geniet nie. In so ‘n geval sal die Afrikanerstaat bekend staan as ‘n ‘puppet state’ soos die voormalige swart tuislande onder apartheid. Die prosesse wat die VVK tans volg, loop sonder twyfel die gevaar om Afrikaners se vryheidstryd te verongeluk, net omdat hulle hierdie punt nie wil insien nie.

Ekonomiese volhoubaarheid

Nadat daar seker gemaak is dat ‘n stuk grondgebied bestaan wat Afrikaners vir eksterne selfbeskikking wil opeis en wat aan alle internasionale regsvereistes en –riglyne voldoen, moet die betrokke grondgebied se ekonomiese volhoubaarheid in duidelike terme vasgestel word. Orania word al vir 20 jaar voorgehou as ‘n lewensvatbare opsie vir Afrikaners se eksterne selfbeskikking, maar daar is geen aanduiding dat hierdie opsie enigsins ekonomies volhoubaar is as soewereine Afrikanerstaat nie. ‘n Stuk grondgebied kan op die oog af ekonomies lewensvatbaar wees, maar wat help dit as dit nie ekonomies volhoubaar is nie?

Ekonomiese volhoubaarheid sluit veral in die moontlikhede op voedselproduksie ter wille van Afrikaners wat in die nuwe staat woon en uiteindelik gaan woon se selfonderhoud. Sonder ‘n uitvoerhawe sal die nuwe staat sukkel om na behore internasionaal handel te dryf; ‘n beginsel wat die Voortrekkers al in 1835 besef het, maar wat sommige Afrikaners vandag duidelik nie besef nie. So is daar ‘n magdom van sake wat deeglike navorsing verg en wat die ekonomiese volhoubaarheid van ‘n onafhanklike Afrikanerstaat sal moet definieer.

Enige grondgebied wat Afrikaners opeis vir eksterne selfbeskikking, moet daarmee rekening hou dat daar nagenoeg 3 miljoen Afrikaners binne en buite die RSA leef. Wat help dit ons eis grondgebied op wat slegs ‘n klein groepie enersdenkende Afrikaners se behoeftes bevredig, soos wat tans besig is om te gebeur met die VVK se prosesse?

Die groot getalle opgeleide en professionele Afrikaners wat reeds die RSA verlaat het om in die buiteland ‘n heenkome te vind, sal sonder twyfel in die nuwe Afrikanerstaat benodig word ter wille van hul kundigheid en ter wille van die nuwe staat se ontwikkeling. Sodra Afrikaners besef dat selfwerksaamheid een van die voorvereistes is vir hul langtermyn voortbestaan in Afrika, sal elke vryheidsgesinde Afrikaner se arbeid en insette in die nuwe Afrikanerstaat benodig word. Dieselfde geld vir die nuwe staat se beveiliging.

Omgewingsvriendelikheid

Selfs al sou ‘n stuk grondgebied vir Afrikaners se eksterne selfbeskikking aan alle regsvereistes voldoen en ekonomies volhoubaar wees, sal groot getalle Afrikaners nie daar gaan vestig indien dit nie ook omgewingsvriendelik is nie. Omgewingsvriendelik impliseer veel meer as dat die grondgebied net esteties of ekologies aantreklik moet wees. Dit impliseer ook dat daar reeds infrastruktuur, behuising, werksgeleenthede, beleggingsmoontlikhede, voldoende water- en energiebronne, ens. moet bestaan.

Grondgebied wat nie omgewingsvriendelik is nie, sal veroorsaak dat groot getalle Afrikaners wat hulleself buite die afgebakende gebied bevind nie in groot getalle daar sal gaan hervestig nie. Veral nie die honderdduisende Afrikaners wat reeds die land verlaat het en wat ons baie nodig sal hê om ons beoogde Afrikanerstaat te help ontwikkel nie. Indien Afrikaners uiteindelik sal besef dat selfwerksaamheid deurslaggewend is tot hul oorlewing in Afrika, sal ons elke Afrikaner wat vry wil wees in sy/haar eie land nodig hê om te kan voortbestaan. Dit geld ook vir die beveiliging van die nuwe Afrikanerstaat. Ons kan dus nie soos die VVK dink ons gaan voortbestaan op ‘n stuk grondgebied met ‘n groepie enersdenkende regse of verregse Afrikaners nie.

Ons moet daarmee rekening hou dat ons alle vryheidsgesinde Afrikaners sal nodig hê om in ‘n soewereine staat te kan oorleef.

Honderdduisende Afrikaners smag na vryheid in ‘n eie land. Enige Afrikanerstaat wat tot stand kom as soewereine land, sal geen keuse hê as om soveel as moontlik Afrikaners in daardie land te akkommodeer nie. Na mate die toestand in die RSA versleg, sal baie Afrikaners wat buite die afgebakende Afrikanerstaat val ten minste die troos wil hê dat hulle daarheen kan verhuis uit vry wil of selfs sal moet vlug ter wille van hul veiligheid.

OASE neem al bogenoemde en veel meer faktore in ag sedert ons met navorsing begin het vir grondgebied waar Afrikaners uiteindelik soewereiniteit wil geniet. Ons is reeds ver gevorder in hierdie proses.

Mandaat vir onderhandelinge met die oog op eksterne selfbeskikking

Nadat daar aan al bogenoemde kriteria voldoen is, ontstaan die vraag of Afrikaners wat binne die afgebakende gebied woon ten gunste is van afskeiding en eksterne selfbeskikking. Geen onderhandelinge vir eksterne selfbeskikking kan ‘n aanvang neem tensy daar ‘n deputasie of afvaardiging bestaan wat met ‘n mandaat van Afrikaners uit die afgebakende gebied hierdie proses kan loods nie. Afrikaners wat buite die afgebakende gebied woon kan nie so ‘n mandaat aan enige organisasie verleen nie, dit sal moet kundiges wees wat sulke onderhandelinge suksesvol kan deurvoer. Vir hierdie doel hoef daar geensins ‘n Afrikaner-regering of –owerheid te bestaan nie. ‘n Afrikaner-regering of –owerheid kan slegs iets beteken wanneer die staat waaroor geregeer word selfbeskikking geniet, en in werklikheid eers ‘n wesenlike rol speel indien ‘n staat internasionale erkenning geniet en dus soewereiniteit het. Totdat Afrikaners nie territoriale soewereiniteit geniet nie, het selfs die kleinste dorpie se ANC-beheerde dorpsraad meer magte as wat ‘n Afrikaner-owerheid sal hê.

Die onderhandelingspan wat namens Afrikaners van ‘n duidelik afgebakende gebied vir afskeiding met die RSA se regering gaan onderhandel, sal moet uit kundige persone bestaan wat in staat daartoe is om sulke onderhandelinge te voer. Aangesien die hele proses van onderhandelinge in beginsel neerkom op ‘n regsproses, beteken dit dat so ‘n onderhandelingspan eerstens uit regsgeleerdes sal moet bestaan wat alle internasionale regsvereistes en –riglyne begryp. Tweedens sal die onderhandelinge nie net met die ANC gevoer moet word nie, maar beslis ook met hul twee koalisiebondgenote, naamlik Cosatu en die SAKP. Dit impliseer dat daar behalwe regsgeleerdes beslis ook ekomone en kundiges van ander tersaaklike terreine op die span sal moet dien. OASE verwys daarom eerder na die onderhandelingspan wat saamgestel sal moet word as ‘n deputasie of afvaardiging.

In Afrikaners se geskiedenis is verskeie deputasies na Londen gestuur om vir Afrikaners se vryheid te gaan onderhandel ten tye van Britse koloniale oorheersing. So ‘n deputasie hoef kragtens die internasionale reg nie oor meerderheidsteun onder Afrikaners binne die afgebakende gebied te beskik nie, maar sal wel moet kan aantoon dat ‘n beduidende getal Afrikaners binne die afgebakende gebied wel aandring op eksterne selfbeskikking. Deur steun van Afrikaners wat buite die afgebakende gebied (ook dus in die buiteland) woon vooraf te bepaal, kan dit stukrag bied vir die deputasie om aan te toon dat groot getalle Afrikaners smag na vryheid. Die VVK en verskeie ander vaandeldraers van Afrikaners se vryheidstrewe sukkel om hierdie prosesse wat gevolg moet word te begryp.

Gebiedsreferendum

Indien die RSA-regering sou weier om met gemelde deputasie, wat oor die nodige mandaat beskik, ten opsigte van eksterne selfbeskikking te onderhandel, sal daar ‘n gebiedsreferendum gehou moet word onder daardie Afrikaners wat binne die afgebakende gebied woon om te bepaal of die meerderheid van hulle wel begerig is om van die RSA-eenheidstaat af te skei.

Afrikaners wat buite die afgebakende gebied woon kan dit nie namens Afrikaners besluit wat binne die afgebakende gebied woon nie. Indien die meerderheid Afrikaners binne die afgebakende gebied aandring op afskeiding, ondersteun deur groot getalle Afrikaners daar buite, sal die RSA-regering geen keuse hê as om met die voorgestelde deputasie oor Afrikaners se vryheid te onderhandel nie.

Indien die RSA-regering steeds nie oor eksterne selfbeskikking met Afrikaners wil onderhandel nie, of indien die onderhandelinge na ‘n uitgerekte proses waarin alle vreedsame opsies ter verkryging van eksterne selfbeskikking uitgeput is op ‘n dooiepunt uitloop, mag Afrikaners in die afgebakende gebied eensydig hul onafhanklikheid uitroep (‘unilateral declaration of independence’). Dit is eers op hierdie stadium dat ‘n regering as regsvereiste ter sprake kom. Ons by OASE glo Afrikaners het nog ‘n lang pad om te loop voordat daar ‘n behoefte is aan ‘n Afrikaner-owerheid.

Soos eerder gemeld, kan hierdie hele proses slegs suksesvol afloop met internasionale erkenning. Dit is daarom uiters noodsaaklik dat die grondgebied wat Afrikaners vir selfbeskikking wil opeis asook die prosesse wat gevolg word om territoriale soewereiniteit te verkry, aan alle internasionale regsvereistes en –riglyne sal moet voldoen, anders sal die nuwe Afrikanerstaat nie internasionale erkenning geniet nie.

Internasionale erkenning

Daar kan nie langer gesloer word met die soeke na internasionale bondgenote vir Afrikaners se vryheidstrewe nie. Sover ons kennis strek is slegs Praag en OASE reeds besig om aan hierdie belangrike saak te werk. Dit is ‘n langdurige proses wat behoorlik gekoördineer en uitgevoer sal moet word.

Afrikaner-volkseenheid

Die verdeeldheid wat daar onder Afrikaners bestaan rakende hul toekomstige vryheid is niks vreemd nie en ons geskiedenis getuig maar al te goed hiervan. Hierdie verdeeldheid het dikwels berus op twee opsies wat oorweeg moes word ter wille van die verkryging van vryheid, naamlik:

  1. ‘n Konfronterende benadering wat dikwels op geweld uitgeloop het. Geweld wat nie net teenoor die oorheerser gemik was nie, maar wat altyd nog gemanifesteer het in onderlinge geweld tussen Afrikaners. Hierdie opsie het tydens die Tweede Vryheids-oorlog tot geweldige lewensverlies onder Afrikaners gelei toe meer as 26 000 Afrikanervrouens en –kinders in Britse konsentrasiekampe gesterf het en baie mans tydens die oorlog hul lewens verloor het. Die haat en bitterheid wat onderlinge stryd tot gevolg gehad het en waar bittereinders in elk geval ten einde laaste die handdoek moes ingooi, is iets wat Afrikaners ten alle koste moet probeer vermy.
  2. Die onderhandelingsopsie het egter in ons geskiedenis in die meeste gevalle wel vrugte afgewerp sonder of met weinige lewensverlies. Afrikaners het vir die eerste keer in hul bestaan internasionale erkenning vir hul soewereiniteit geniet met die

Sandrivierse Konvensie in 1852 (Transvaal) en weer met die Bloemfonteinse Konvensie (1854) – in beide gevalle die gevolg van oonderhandelinge met die Britse opperheerskappy. Daarna het Brittanje in 1877 basies sonder slag of stoot die Transvaal geannekseer. Selfs nadat genl. Joubert en sy getroue Boere-Afrikaners die slag van Majuba gewen het op 27 Februarie 1881 en die Britte met die Transvalers moes vrede sluit, het Afrikaners steeds nie vryheid geniet nie en het die Britse Union Jack steeds in Pretoria bly wapper. Dit was eers nadat die Transvalers deputasies na Londen gestuur het dat daar deur middel van
onderhandelinge weer vryheid tydens die Konvensie van Londen (eers in 1885) en soewereiniteit verkry is.

Die grondgebied wat Afrikaners verkry het in 1884 en wat later bekend gestaan het as die Republiek van Vryheid, is deur middel van onderhandelinge met Dinizulu, kroonprins van die Zoeloes bekom. Hierdie gebied is in 1888 by die destydse Transvaal ingelyf wat toe reeds hul soewereiniteit geniet het. Hierdie onderhandelinge met Dinzulu en sy stamhoofde het in teenwoordigheid van Duitse sendelinge van die Berlynse sendinggenootskap plaasgevind en is gedokumenteer. Boere-Afrikaners het selfs Dinizulu se koningskap oor die Zoeloes in die proses erken deur hom fisies op sy hoof met kasterolie te salf soos wat dit in die Ou Testament die gewoonte was. Genl. Lucas Meyer het nie toe gesê hy weier om ‘n swart man met die hand te groet of aan sy voorhoof te raak nie, soos wat sommige verregse Afrikaners doen nie.

Die vryheid wat Afrikaners 8 jaar na afloop van die Anglo-Boereoorlog in die vorm van selfregering in 1910 gekry het, het deur middel van onderhandelinge met die Britse regering plaasgevind. Hierdie gedeeltelike outonomie is in 1924 verder uitgebrei onder leiding van genl. Hertzog as eersteminister van die Unie van SA; genl. Hertzog was ook ‘n regsgeleerde. Nadat die Nasionale Party van dr. D.F. Malan (‘n teoloog wat ook in Utrecht, Nederland gestudeer het) die verkiesing in 1948 gewen het, kon Afrikaners op grond van volkseenheid teen 1961 daarin slaag om algehele vryheid en soewereiniteit te kry met republiekwording in 1961.

Dr. D.F. Malan meld in sy boek, Afrikaner Volkseenheid die volgende:

…Maar volkseenheid beteken nog veel meer as bloot die erkenning van elkanders regte. Dit veronderstel ook die bestaan van bande met bindende krag sterker as die skeidende wat deur verskil van belange veroorsaak word.

Ons by OASE glo dat die strewe na volksvryheid onder Afrikaners nou ‘n stadium bereik het waar daar gefokus sal moet word op dit wat hierdie grootse leier in ons geskiedenis hieroor te sê gehad het. OASE is die enigste organisasie wat nie met bagasie uit die verlede rondloop wat hierdie proses nadelig kan beïnvloed nie en dit pas aan by ons onafhanklike ekspedisie op soek na vryheid vir alle Afrikaners wat daarna streef, nie net vir ‘n eksklusiewe groepie regses nie.



2 Comments

  1. Comments  SecurID Resources   |  Monday, 03 October 2011 at 10:49 pm

    SecurID Resources…

    [...]Afrikanervryheid en -volkseenheid | OASE[...]…

Lewer Kommentaar

U moet ingeteken wees om kommentaar te lewer.

 

OASE OP OASE op YouTube
OASE op YouTube



Artikel7

Twitter Boodskappe