‘n Eenheidsvlag vir Afrikaners
Last Updated on Wednesday, 27 June 2012 10:56 Written by Webmaster Saturday, 13 August 2011 09:35
Die kwessie van ’n eenheidsvlag is altyd kontroversieel. OASE het deeglike navorsing gedoen oor ’n vlag wat eenheid onder Afrikaners sal bewerkstellig sonder dat dit enige apartheids- of ander negatiewe konnotasies het. Hierdie eenheidsvlag het niks te make met die vlag wat Afrikaners self eendag by wyse van ’n referendum kan kies as ’n nasionale vlag ná verkryging van onafhanklikheid in ’n eie staat nie.
Die vorige Republiekvlag (oranje, blanje, blou met drie klein vlaggies in die middel) het sonder twyfel ’n apartheidskonnotasie. Apartheid is deur die VN tot ’n misdaad teen die mensdom verklaar en die gebruik van die ou RSA-vlag ter wille van volkseenheid sal veroorsaak dat Afrikaners se vryheidstrewe deur die wêreld daar buite beskou word as ’n teruggryping na apartheid. Afrikaners moet egter daarteen waak dat hul volksbestaan van nagenoeg 250 jaar nie misken word as gevolg van 46 jaar se apartheidsfoute nie. Alle volke op aarde is trots op hul geskiedenis en Afrikaners se geskiedenis as inheemse volk van Afrika strek so ver terug as die tweede helfte van die 18de eeu.
Afrikaners het volle onafhanklikheid geniet in die voormalige Boererepublieke van die ZAR (Transvaal) en die Oranje-Vrystaat reeds vóór Britse kolonisasie in 1902. Elkeen van hierdie republieke het hul eie vlae gehad. Tot vandag toe word hierdie republikeinse vlae deur baie Afrikaners gerespekteer vir hul historiese waarde en vir die feit dat dit Afrikaners se vryheid in die verlede simboliseer.
OASE het vasgestel dat Afrikaners se aanspraak op grondgebied, wat deel vorm van grondgebied waar Afrikaners vóór Britse kolonisasie (1902) volle soewereiniteit geniet het, ’n faktor is wat deurgaans in die internasionale reg belangrik geag word by ’n eis vir eksterne selfbeskikking met die oog op territoriale soewereiniteit. OASE se afgebakende gebied waar Afrikaners eksterne selfbeskikking behoort op te eis val binne die (veel groter) gebied waar Afrikaners in die Transvaal (ZAR) en Vrystaat histories volle onafhanklikheid geniet het. Afrikaners het ’n onbetwisbare historiese verbintenis met en ’n sterk internasionale regsaanspraak op hierdie gebied. Dit sluit ook die voormalige Boererepublieke se hoofstede in, naamlik Pretoria en Bloemfontein.
Teen die einde van die Anglo-Boereoorlog (1902) het baie burgers gevoel dat, aangesien die vryheidstrewes van die twee Boererepublieke dieselfde was met ‘n gemeenskaplike vyand (Groot-Brittanje), hulle ‘n vlag wil gebruik wat beide die Transvaal (ZAR) en die Vrystaat verteenwoordig. ‘n Oranje baan is toe aan die onderkant van die Transvaalse Vierkleur vasgeheg, en die nuwe vlag het bekend geword as die Vyfkleur. Soos wat die Boere se gesamentlike kommando’s uit die twee onafhanklike republieke dorpe herower het van die Britte, het hulle die Vyfkleur telkens gehys. Die Kaapkolonie was onder Britse beheer en Afrikaners het nooit daar enige soewereiniteit geniet nie, maar die Kaapse rebelle wat die Boere se vryheidstryd gesteun het, het ook dikwels die Vyfkleur gehys wanneer hulle dorpe herower het vir die Boere; hierdie rebelle het soms na die Vyfkleur verwys as die “Oorlogsvlag”.
Daar bestaan geen twyfel by OASE dat die Vyfkleur geskik is om weer ’n gevoel van volkseenheid onder Afrikaners aan te wakker nie. Selfs Steve Hofmeyr as populistiese Afrikaanse sanger steun die gedagte van die Vyfkleur as eenheidsvlag vir Afrikaners. Duisende van hierdie vlae sal eersdaags in die openbaar verskyn met as leuse EX UNITATE VIRES (EENDRAG MAAK MAG). Afrikaners wat vryheid nastreef word versoek om dit aan te skaf en oral ten toon te stel sonder enige terughoudendheid.
Tags: afrikaners, eenheidsvlag, oase, vlag, vyfkleur



[...] Lees gerus meer oor die Vyfkleur of Eenheidsvlag op hierdie skakel. [...]