OASE: Ontstaan en agtergrond
Last Updated on Friday, 25 May 2012 12:36 Written by Admin Friday, 18 May 2012 11:26
OASE, ’n akroniem vir Onafhanklike Afrikaner-selfbeskikkingsekspedisie, het sy ontstaan te danke aan die bekende Latynse vraag: Quo vadis – waar gaan jy heen? Hierdie vraag is al dikwels in die verlede deur Afrikanerleiers gevra, met die bekendste daarvan seker in dr. D.F Malan se Afrikaner Quo Vadis-toespraak tydens die opening van die Voortrekkermonument op 16 Desember 1949. Die media het destyds berig dat nagenoeg 150 000 Afrikaners die geleentheid bygewoon het.
Veertig jaar later, op 26 Mei 1990 het dr. A.P. Treurnicht ook voor ’n Afrikanergehoor van ongeveer 150 000 mense by die Voortrekkermonument ‘n toespraak gelewer met as titel: Die Derde Vryheidstryd het begin. Min het Afrikaners toe besef wat se visionêre toespraak dit in werklikheid was. Tydens hierdie toespraak het dr. Treurnicht alle Afrikaners, en by name die destydse president mnr. F.W. de Klerk, gewaarsku dat enige vorm van multikulturele demokrasie gebaseer op een-mens-een-stem ’n swart meerderheidsregering vir SA sou oplewer waarin Afrikaners se politieke mag sal verdwyn. Dr. Treurnicht het as alternatief selfbeskikking vir Afrikaners as minderheidsvolk in ’n eie grondgebied voorgehou. Op 17 Maart 1992 moes Afrikaners seker een van die belangrikste vrae in hulle volksbestaan beantwoord in die sogenaamde apartheidsreferendum, naamlik:
Is u ten gunste van die voortsetting van die Staatspresident (F.W. de Klerk) se hervormingsproses wat op 2 Februarie 1990 begin is en gemik is op die daarstelling van ’n nuwe grondwet deur onderhandeling?
’n Oorweldigende meerderheid het “JA” gestem op hierdie vraag. Toe mnr. F.W. de Klerk destyds gevra is oor die kwessie van selfbeskikking vir wit Suid-Afrikaners gedurende dieselfde pylvak, was sy antwoord onder andere: “Ons doen alles in ons vermoë om enige blanke vrese te besweer. U het niks te vrese van die Nuwe Suid-Afrika nie. Ons te onderhandelde wigte en teenwigte staan reeds vas soos die Rots van Gibraltar.”
Wat daarop gevolg het was die RSA se eerste demokratiese verkiesing op basis van een-mens-een-stem in April 1994, toe ’n swart meerderheidsregering onder die ANC aan bewind gekom het. Sedert hierdie veranderinge verteenwoordig Afrikaners se stemkrag minder as 7% van die RSA se bevolking. Die proses is voltrek in ’n nuwe grondwet vir Suid-Afrika wat in 1996 van krag geword het. Die vertrekpunt van die nuwe liberaal-demokratiese grondwet was dat alle burgers van die RSA se menseregte beskerm sou word deur die toepassing van “the rule of law”.
Sedertdien transformeer die RSA-regering, wat uit ’n alliansie bestaan tussen die ANC (African National Congress), SA Kommuniste Party en die vakbondfederasie COSATU, deur middel van ‘n goed georkestreerde proses van verafrikanisering of ‘indigenization’ alle fasette van Afrikaners se bestaan, insluitend die regbank. Die betrokke kabinetsminister, Jeff Radebe, lê selfs klem op die feit dat die regbank nie voldoende en snel genoeg transformeer nie. Bevindinge van die hooggeregshof soos die een van regter Halgryn in 2011 waar Julius Malema, geskorste ANC-jeugleier, skuldig bevind is aan haatspraak omdat hy liedjies soos ‘Dubula iBhunu’ (“skiet die Boer’) sing, beteken nie veel nie want ons eie staatspresident, Jacob Zuma, gaan ten spyte hiervan onbelemmerd voort om dieselfde gewraakte liedjies te sing. Bowendien het die ANC se sekretaris-generaal, Gwede Mantashe, dieselfde dag op regter Halgryn se bevinding gereageer deur in die openbaar te sê dat sulke hofuitsprake die ANC nie aanstaan nie en dat dit die ANC-regering noop om die regbank nog meer en vinniger te transformeer. President Jacob Zuma het onlangs weer die regering se standpunte hieromtrent beklemtoon . Oudpresident F.W. de Klerk erken nou self dat die RSA se grondwet bedreig word, maar klou steeds onverbete vas aan dit wat ten grondslag lê van die onaanvaarbare lot waarin Afrikaners hulleself vandag bevind.
Die ANC-regering kan die Grondwet tans verander met ‘n tweederde meerderheid in die parlement. Die ANC het 65,9% steun in die algemene verkiesing van 2009 ontvang en daardeur 264 (66%) setels uit ‘n totaal van 400 setels in die parlement gekry. Wat ander partye met swart ondersteuners betref weet ons dat minstens die PAC, AZAPO en UDM waarskynlik die ANC sal steun in enige grondwetlike veranderinge. Die verdeling van setels in die parlement lyk tans soos volg:
| PARTY | AANTAL SETELS |
| ANC | 264 (66%) |
| DA | 67 |
| COPE | 30 |
| IFP | 18 |
| ID | 4 (sedertdien saamgesmelt met DA) |
| UDM | 4 |
| VF+ | 4 |
| ACDP | 4 |
| UCDP | 2 |
| PAC | 1 |
| APC | 1 |
| AZAPO | 1 |
| MF | 1 |
Selfs al steun slegs die PAC, AZAPO en UDM die ANC se voorgestelde wetgewing, beteken dit dat die ANC 67,5% steun sal hê met die oog op veranderinge aan die Grondwet. Die volgende algemene verkiesing vir ‘n nuwe parlement is weer in 2014. Sommige Afrikaners hoop op ’n toekomstige skeuring in die ANC-alliansie, maar besef nie dat dit weinig invloed op Afrikaners se lot sal hê anders as om dit dalk net te vererger nie. Intussen het die ANC in die munisipale en provinsiale verkiesings van 2011 bewys dat dit steeds by verre die voorkeurparty vir die meerderheid swartes in die RSA is, ten spyte van die patetiese vlak van dienslewering deur ANC-owerhede. Tydens gemelde munisipale en provinsiale verkiesings het groot getalle Afrikaners vir die DA (Demokratiese Alliansie) gestem, enersyds met die hoop dat dit ’n sterker opposisie vir die ANC sal vorm, maar ook met die hoop dat Afrikaners se lot daardeur verbeter sou word. Dit het egter nie gebeur nie, want die DA stel meer belang in die stemme van bruin en swart kiesers omdat hulle getalle deurslaggewend is in die multikulturele eenheidstaat.
Afrikaners as etniese minderheid staar werklik ernstige bedreigings in die gesig. Onder ’n swart meerderheidsregering word Afrikaners se kultuur skreiend afgetakel hulle word ekonomies ontmagtig op alle denkbare maniere, en hulle word fisies uitgemoor teen ’n skaal wat deur die internasionale organisasie Genocide Watch reeds op vlak 5 van 8 moontlike vlakke van volksmoord geplaas is. In hierdie proses het Afrikaners bedelaars in hul eie land geword en het daar nie veel gekom van mnr. De Klerk se ‘wigte en teenwigte’ nie. Voortdurende litigasie in arbeids- en ander howe om Afrikaners se basiese menseregte te probeer beskerm beloop reeds etlike miljoene rande sedert 1994 en bied geen langtermyn waarborg vir sukses nie, veral nie in ‘n regsorde wat vinnig besig is om te transformeer in ‘n rigting wat Afrikaners duidelik nie goedgesind is nie. Die buitensporige finansiële en ander geweldige opofferings wat Afrikaners moet maak om hul basiese mense- en etniese minderheidsregte te beskerm, die voortslepende aanvalle en moorde op Afrikaners en die onsekerheid waarmee hulle die toekoms moet ingaan in ‘n multikulturele RSA, laat Afrikaners met geen keuse as om na ander staatkundige oplossings te soek nie.
Dit is teen bogenoemde agtergrond wat ’n groep vryheidstrewende Afrikaners in 2010 besluit het om te gaan vasstel wat Afrikaners se alternatiewe vir gewaarborgde voortbestaan in Afrika is. Dit het tot die stigting van OASE as drukgroep of ’advocacy group’ gelei, onder voorsitterskap van Cor Ehlers. OASE kon daarin slaag om Afrikaners uit alle vlakke van die samelewing, sowel binne as buite die RSA, te betrek by die organisasie.
Die strewe na selfbeskikking deur volke en groepe word in toenemende mate deur die internasionale gemeenskap gesien as ‘n reg wat alle volke toekom. Dit geld ook vir volke wat as etniese minderhede binne eenheidstate vasgevang sit. Hierdie reg van volke om oor hul eie lot beheer uit te oefen word lankal nie meer gesien as ‘n konserwatiewe ideologie nie, en neem elders in die wêreld selfs die status aan van ’n nuwe bevrydingsideologie. Die reg op selfbeskikking van volke word lankal deur die internasionale reg as ’n jus cogens-reg gesien, wat daarop neerkom dat dit verhewe is bo alle ander regte in die internasionale reg. Volke se reg op selfbeskikking geniet boonop die status van erga omnes, wat beteken dat alle state van die wêreld ondergeskik is aan hierdie reg van volke, ook wat betref minderheidsvolke. Waar minderheidsvolke in multikulturele samelewings nie selfbeskikking binne die eenheidstaat gegun word nie, word hulle aanspraak op eksterne selfbeskikking binne soewereine staatsverband steeds wyer erken in die internasionale reg.
Oral in die wêreld begin minderheidsvolke wat vasgevang sit in eenheidstate hul vryheid opeis, maar in baie gevalle gaan dit ongelukkig gepaard met uiterste vorms van geweld. Die internasionale reg en gemeenskap skryf slegs ’n vreedsame pad van onderhandelinge voor vir minderheidsvolke wat vryheid soek. Afrikaners se drang na politieke onafhanklikheid loop soos ’n goue draad deur hul geskiedenis en het in die meeste gevalle in die eerste instansie gepaard gegaan met vreedsame onderhandelinge – ’n kultuureienskap wat geanker is in Afrikaners se Christelik-Protestantse geloof. OASE se uitgangspunt is dat, as Afrikaners dit kon regkry om in 1994 sonder geweld die land aan ‘n swart meerderheidsregering te oorhandig, die uitdaging om weer vryheid terug te kry deur middel van vreedsame onderhandelinge werklik nie te groot is nie. Die ANC, die media en ander sal nie Afrikaners se byna 300 jaar oue vryheidstrewe op die lange duur kan terughou nie.
Enige neiging om te probeer terugkeer na uitgediende konsepte van die verlede soos apartheid, gaan pogings tot die verkryging van Afrikaner-selfbeskikking kortwiek omdat die meerderheid Afrikaners hulleself nie langer daarmee wil assosieer nie. Diskriminasie op grond van geloof, ras of geslag druis in elkgeval teen alle begrippe van basiese menseregte in, soos wat ook bepaal word deur die VN se Handves vir Menseregte. Apartheid is boonop tot ’n misdaad teen die mensdom verklaar deur die VN. Die meerderheid Afrikaners het hulleself lankal van die juk van apartheid bevry, maar streef steeds na ’n staatsbestel waar hulle hul eiesoortige kultuur en waardestelsels sal kan uitleef sonder dat hulle noodwendig deur ‘n staat of grondwet op diskriminerende wyse voorgeskryf word oor hoe om dit te doen. Dit is daarom belangrik om die konsepte van eksterne selfbeskikking en territoriale soewereiniteit te bevry van apartheidsretoriek en -simbole, sodat hierdie konsepte veel meer inklusief kan wees en sodat die meerderheid Afrikaners hulle daarmee kan vereenselwig.
Apartheid as staatsbestel het vanaf 1948 tot 1994 toepassing in SA geniet, terwyl Afrikaners as volk reeds sedert die tweede helfte van die 18de eeu bestaan. Die ANC en links-liberales se pogings om Afrikaners van ’n trotse geskiedenis te vervreem, terwyl apartheid minder as 50 jaar van ons volk se 250 jaar oue geskiedenis uitmaak, kan nie langer geduld word nie. Afrikaners moet dus daarteen waak dat die relatief kortstondige apartheidsera ons nie vervreem van die res van ons geskiedenis en alles wat daarmee gepaard gaan nie. Net so kan Afrikaners ook nie langer toelaat dat ’n kollektiewe skuldgevoel uit ons apartheidsverlede byna twintig jaar na demokrasie ons en ons nageslag se toekoms bepaal nie.
Enige poging deur ultraregse groepe om die gedagte van ‘n onafhanklike Afrikanerstaat vir hulleself op te eis en die proses daarvan te beperk tot ’n eksklusiewe groepie mense, sal uiteindelik nie volhoubaar wees nie. Die toekoms van enige volk lê immers by die jeug, en die oorgrote meerderheid van Afrikaner-jongmense wat nie herinner wil word aan die apartheidsverlede nie, het in vele opsigte totaal vervreemd geraak van regse en veral verregse Afrikaner-politiek. Kuberkommunikasie en globalisering plaas vandag se Afrikaners in ‘n nuwe dimensie waarin hulle blootstelling aan ’n geglobaliseerde wêreld dikwels lei tot eietydse insigte en vervreemding van sommige konserwatiewe waardes. Daar is baie jong Afrikaners wat ontnugter is oor hul situasie binne die huidige RSA-konteks en wat dikwels ouer en konserwatiewer generasies verkwalik vir die dilemma waarin hulle hulself tans bevind, terwyl hulle nooit self deel van die apartheidsverlede was nie.
Afrikaners wat vasklou aan patriargale besluitnemingstrukture waarin vroue en jongmense se rol ondergeskik geag word en wat diskrimineer op grond van geslag, kerkverband, ouderdom of seksuele oriëntasie vorm nie meer ‘n meerderheid in Afrikanergeledere nie. Die aard en omvang van die diversiteit onder Afrikaners verskil weinig van dié van ander Westerse volke, maar net soos by daardie volke beteken dit nie dat daar nie steeds ‘n minimum eenderse geladenheid onder Afrikaners bestaan wat hulle duidelik identifiseerbaar maak as ’n etniese identiteit nie. Individue se verskillende persoonlike beginsels en morele of godsdienstige oortuigings is onder alle Westerse volke wyduiteenlopend, maar daar is altyd ‘n meerderheid van mense binne hierdie volke wat dieselfde taal praat, ekonomiese stelsel ondersteun, basiese morele of godsdienstige oortuigings het, politieke stelsels in stand hou, bepaalde kulturele gebruike handhaaf, spesifieke voorkeure het vir sport, musiek, kuns en vermaak, en wat dieselfde sosiale gewoontes uitleef.
Die onenigheid wat daar onder sommige Afrikaners bestaan oor die kwessie van selfbeskikking binne ‘n soewereine staat is alombekend. Hierdie onenigheid word veroorsaak deur verskeie redes waarvan onkunde of ‘n gebrek aan begrip vir Afrikaners se regsposisie binne die nasionale en internasionale reg maar net een voorbeeld is. Die paar mense wat hulle met hierdie saak besig hou, huldig verskeie standpunte hieroor sonder dat daar werklik diepgaande navorsing gedoen word om al die nuutste internasionale regsverwikkelinge in hierdie verband te gaan vasstel. Geen poging tot afskeiding van die RSA-eenheidstaat kan suksesvol wees as die proses nie bestuur en gemonitor word deur ‘n span regsgeleerdes en ander kundiges op alle tersaaklike terreine wat Afrikaner-selfbeskikking nastreef nie. Afrikaners kan nie bekostig om weer ’n derdespan onderhandelaars aan te stel wat leiding moet bied soos wat die geval was by Kodesa in die aanloop tot die 1996-grondwet nie.
Die konsepte van eksterne selfbeskikking en territoriale soewereiniteit vir Afrikaners sit ook vasgevang in verkeerde persepsies wat deur die ANC, die media en sommige Afrikaners self geskep en aangewakker word. Die gevolg hiervan is dat Afrikaners in toenemende mate begin glo dat hulle geen keuse het as om aan ‘n multikulturele samelewing te behoort waarbinne hul eiesoortige kultuur en waardestelsels as minderheidsgroep nie werklik bestaansreg gegun word nie. Hierdie persepsie word versterk deurdat die poging tot Afrikaner-selfbeskikking in Orania dikwels voorgehou word as die enigste haalbare opsie, terwyl dit lankal deur die meerderheid Afrikaners as ‘n onaanvaarbare opsie vir selfbeskikking beskou word. Deur Orania voor te hou as ’n toonbeeld van selfwerksaamheid is irrelevant, aangesien selfwerksaamheid nie gekoppel is aan ’n plek of gebied nie maar eerder ’n persoonlike ingesteldheid is. Afrikaners kan enige plek in die wêreld selfwerksaam wees as hulle dit sou verkies. Dit is ook algemeen bekend dat die Orania-konsep ernstige tekortkominge toon wat betref internasionale regskriteria en die riglyne van die internasionale gemeenskap vir die verkryging van eksterne selfbeskikking vir Afrikaners. Deur Orania en die Noord-Kaap voor te hou as ’n soort virtuele heimat vir Afrikaners is ietwat verregaande en bied geen waarborge vir Afrikaners se voortbestaan nie.
Terselfdertyd bied denkrigtings van die meeste hedendaagse Afrikanerleiers helaas ook nie oplossings vir Afrikaners se kulturele, ekonomiese en fisiese voortbestaan nie. Deur aan die huidige grondwetlike bestel onverbete vas te klou met die hoop dat dit eendag sal werk, is sinneloos. Hoe gouer die konsepte van eksterne selfbeskikking en territoriale soewereiniteit vir Afrikaners bevry word van die vooropgestelde idees en stereotipes waarin dit vasgevang sit, hoe gouer sal Afrikaners besef dat volle onafhanklikheid in ’n eie staat waarin Afrikaners die meerderheid is, prakties haalbaar en internasionaal aanvaarbaar is. Onderlinge politieke verskille tussen Afrikaners as relatief homogene groep sal veel beter geakkommodeer kan word in ‘n veelpartypolitieke demokrasie binne ’n eie onafhanklike staat waarin Afrikaners die meerderheid is, as wat tans die geval is waar Afrikaners ‘n klein minderheidsgroep vorm teenoor ‘n groot meerderheid van Afrikane binne die RSA-eenheidstaat.
Duisende Afrikaners bevind hulleself in diaspora en verlang met nostalgie en heimweë na ’n eie vaderland waar hulle kinders soos Afrikaners kan groot word. Hulle verlang na ’n land waar daar nie teen hulle gediskrimineer word omdat hulle wit en meer spesifiek Afrikaners is nie. Hulle smag na ’n eie land waar hulle in veiligheid kan woon en werk, en waar hulle ’n toekoms vir hulleself en hul nageslag kan opbou. Die kundigheid wat saam met sulke Afrikaners verdwyn het uit ons samelewing is van onskatbare waarde en moet met oop arms terug verwelkom word in ons voorgestelde Afrikaner-republiek.
Duisende ander Afrikaners is werkloos en reeds sodanig verarm dat hulle inderdaad bedelaars in hul eie land geword het, want die ANC se beleid van regstellende aksie laat hulle met geen keuse nie. Afrikaners durf nie langer hulle gesigte wegdraai vir die uiterste armoede waarin duisende ander Afrikaners leef nie. Die heersende nood onder duisende Afrikaners noop mede-Afrikaners om nie langer hande uit te reik na vreemdelinge nie – ‘charity begins at home’.
Daar is baie Afrikaners wat in ’n staat van ontkenning leef, omdat hulle nie die werklikhede om hulle wíl raaksien nie. Met die meeste van hulle gaan dit nog relatief goed en hulle hoop en bid maar net dat dinge sal regkom. Sulke Afrikaners leef meestal in ontkenning omdat dit vir hulle ’n oorlewingsmeganisme bied. Afrikaners wat besef dat eksterne selfbeskikking die enigste langtermynoplossing inhou vir hul voortbestaan behoort moedig, maar met geduld hul mede-Afrikaners te oortuig van die haalbaarheid daarvan.
Afrikanerboere staan daarvoor bekend dat hulle die enigste groep is wat op groot skaal suksesvol en winsgewend in Afrika kan boer. Die ANC se georkestreerde vervreemding van Afrikanerboere en die uiters moeilike omstandighede waarin hulle daagliks voedsel vir die land moet produseer, dra alles daartoe by dat voedselsekerheid op ’n krisis afstuur. Hierdie toestand word grootliks vererger deurdat 90% van plase wat aan sogenaamde ontluikende swart boere sedert 1994 oorgedra is, lankal nie meer voedsel produseer nie. Intussen stroom duisende ander Afrikane oor die RSA se grense wat die situasie net vererger. Die ANC se voortdurende dreigemente van Afrikanerboere se grond wat onteien gaan word, dryf hierdie uiters bekwame voedselprodusente na lande selfs sover soos Georgië. Die tempo waarteen Afrikanerboere en hul gesinne aangeval en dikwels uitgemoor word, skree ten hemele. Net soos wat Afrikaners moordbendes in hul geskiedenis te bowe moes kom deur self beheer oor hul veiligheid te neem, net so sal hulle dit weer te bowe kan kom in ’n onafhanklike staat waaroor Afrikaners politieke beheer uitoefen. Afrikaners in dorpe en stede sal moet hande vat met Afrikanerboere om hul lewensomstandighede draagliker te maak en om alles moontlik te doen om hulle te oortuig om in te koop in OASE se konsep van eksterne selfbeskikking, sodat hulle behoue kan bly ter wille van ons mense se oorlewing.
Afrikaners wat nog vasklou aan die Vryheidsfront Plus doen dit omdat hulle voel dit is die enigste politieke party waarmee hulle hul Afrikanerskap kan vereenselwig. Die VF+ doen lankal nie meer wat hulle veronderstel is om te doen om Afrikaners se tragiese lot doeltreffend te verbeter nie. Groot getalle Afrikaners steun die DA met die hoop op ‘n sterker opposisie teen die ANC en hul kommunistiese bondgenote. Ongelukkig verteenwoordig Afrikaners minder as 7% van die RSA se bevolking en beteken hul deelname aan verkiesings nie veel nie. Die DA besef dit maar al te goed en ter wille van politieke gewin onder swartes het hulle raadslede onlangs in Pretoria selfs buite stemming gebly oor die verandering van Afrikaanse straatname. Dit is hoe erg Afrikaners se politieke mag deur mnr. De Klerk en sy derdespan onderhandelaars ingeperk is na 1994, sodat Afrikaners lankal nie eers meer seggenskap het oor hul eie kulturele hoofstad nie – soos wat ’n brief aan Beeld van ‘n verontwaardigde Afrikaner reeds in 2000 getuig het.
Al die splintergroepe waarna hierbo verwys word huisves wat OASE noem hoofstroom-Afrikaners en hulle verteenwoordig lankal ’n meerderheid in Afrikaner-geledere. Dit maak nie saak of hulle links of regs is wat hulle politieke oortuigings betref of aan watter kerk hulle behoort nie, hulle is almal slagoffers van die huidige grondwetlike bestel. Hulle is en bly almal Afrikaners. Dit is nou byna 20 jaar na apartheid en ons is eintlik lankal besig om selfs uit die post-apartheidera uit te beweeg. Multikulti is lankal nie meer ‘cool’ nie. Die rigting wat die swart meerderheid en hul magsbehepte ANC die land inlei, verskil weinig van dit wat in die res van Afrika ná kolonialisme plaasgevind het. Afrikaners se eksperiment met ’n multikulturele demokrasie waarin hulle minder as 7% van die bevolking uitmaak loop nou ten einde en daar moet ’n nuwe toekoms geskep word met eendragtigheid.
Die aard en omvang van die aftakeling van Afrikaners se kultuur, hul ekonomiese ontmagtiging en fisiese uitwissing noop Afrikaners om volle onafhanklikheid binne ’n bepaalde grondgebied as oplossing en waarborg vir hul voortbestaan ernstig te oorweeg. Die bevryding van eksterne selfbeskikking en territoriale soewereiniteit as haalbare konsepte vir Afrikaners se voortbestaan verg vindingrykheid en daadkragtige optrede wat Afrikaners weer hoop sal gee op die toekoms. OASE se navorsing wat nou reeds byna twee jaar duur, dui die roetekaart aan vir vryheidstrewende Afrikaners wat hulle kan en behoort te volg indien hulle kultureel, ekonomies en fisies in Afrika wil oorleef. Alhoewel dit groot opofferings gaan verg, is geen opoffering te groot vir enigiemand wat die voortbestaan van sy eie mense hoog ag nie – veral nie ter wille van ons nageslag nie.
Die gedagte van ’n reënboognasie binne ’n eenheidstaat is edel, maar ongelukkig is Afrikaners as klein etniese minderheid binne die RSA uitgelewer aan ’n swart meerderheidsregering waarvan die kultuur en waardestelsels in aard en omvang diepliggend verskil van Afrikaners se eeue oue Westerse kultuur en waardestelsels. Deur die gedagte van Afrikaner-selfbeskikking met volle onafhanklikheid in ’n eie staat as haalbare konsepte oop te gooi vir alle Afrikaners se oorlewing, ongeag individuele voorkeure of godsdienstige en morele oortuigings, kan die meerderheid Afrikaners nou eensgesind streef na ‘n Afrikanerstaat waarin Afrikaners weer oor hul eie lot kan besluit. Deelname aan en ondersteuning van OASE as drukgroep vir Afrikaners se internasionale reg op selfbeskikking sluit werklik niemand in Afrikanergeledere uit nie, daarom dat OASE as onafhanklike drukgroep vryheid vir Afrikaners nastreef, en nie as politieke party of kultuurorganisasie.
Sluit gerus by OASE aan: Kliek hier.


