Wanneer twee kulture met mekaar bots
Last Updated on Wednesday, 23 May 2012 08:54 Written by Admin Wednesday, 23 May 2012 08:50
Die Khoi of Hottentotte was vroeg reeds aan die Kaap en hulle eerste werklike aanraking met Westerlinge uit Europa was toe die Portugese seevaarder, Bartholomeus Dias, in Februarie 1488 rondom die Kaap gevaar en in Mosselbaai anker gegooi het. Die volgende aanraking was toe die Portugese seevaarder, Vasco da Gama, in November 1497 eers in St Helenabaai en daarna in Mosselbaai met Khoistamme kennis gemaak het. Hierna was die aanraking tussen die Khoi en Portugese redelik gereeld tot in 1510, waarna die Portugese hul landingsplekke na verder noord aan die ooskus van Afrika verskuif het. Hulle is deur die Franse, Engelse en Hollanders opgevolg, wat sowel in Mosselbaai as in Tafelbaai geland het. Teen die tyd dat Jan van Riebeeck in April 1652 in opdrag van die Vereenigde Oostindische Compagnie (VOC) ’n verversingspos vir verbygaande skepe aan die Kaap gevestig het, was die Hollanders dus reeds met die Khoi bekend en omgekeerd.
Ondanks ’n gunstige verslag van ene Leendert Janszen oor die Khoi, het Van Riebeeck skynbaar nie veel van hulle verwag nie. In Van Riebeeck se kommentaar op die verslag van Janszen stel hy dit aan die Here XVII van die VOC dat die Khoi nie vertrou kan word nie, dat hulle barbaars en sonder gewete is. Die Here XVII het blykbaar groter waarde geheg aan Van Riebeeck se oordeel as aan dié van Janszen, want Van Riebeeck en sy groep wat na die Kaap moes vaar is gewaarsku dat hulle na hul landing onmiddellik moes skanse bou teen die inboorlinge, aangesien laasgenoemde maar ‘n “rou nasie” is. Van Riebeeck en sy groep het egter baie duidelik opdrag gekry dat hulle die Khoi op geen wyse aanstoot moes gee nie, en alles in hul vermoë moes doen om die inboorlinge se vriendskap, ook ter wille van die toekoms, met oordeelkundigheid te verseker. Hierdie opdrag het Van Riebeeck getrou nagekom.
Die Khoi moes met die grootste verdraagsaamheid behandel word, ongeag enige aanstoot of uittarting uit daardie geledere. Op 14 April 1653 versoek Van Riebeeck sy werkgewers, die Here XVII, vir ‘n verplasing na ’n ander oord, aangesien hy na sy eie oordeel sy dienste ten behoewe van die VOC elders beter kon aanwend as tussen die “botte, plompe, luie ende stinkende natie” aan die Kaap. Van Riebeeck se dagboek getuig van uiterste uittarting deur die Khoi-stamme, veral deur die twee Khoi-mans Herrie en Doman met hul volgelinge. Hulle het geroof en gesteel en selfs op 19 Oktober 1653 die veewagter, David Jans, wat die beeste naby Leeukop opgepas het, vermoor en die beeste weggevoer. In sy dagboek meld hy op 3 Januarie 1854 dat daar ’n aantal “Hottentoos” sonder beeste na die Fort gekom het en nog brutaler as vantevore alles gesteel het waarop hulle beslag kon lê. Mense wat ongewapen was, is aangeval en beroof. Hulle het selfs kinders gegryp om die koperknope van hul klere af te trek. Van Riebeeck skryf daarby dat die groepie Khoi dit alles gedoen het ten spyte van die goeie behandeling en vriendelikheid waarmee hulle ontvang is. Die Europese nedersetters moes egter alle uittarting verdra en geen vyandskap teenoor die Khoi betoon nie.
Van Riebeeck se beskrywing van die Khoi is werklik nie vleiend nie. Daar is egter heelwat ander getuienis wat aantoon dat Van Riebeeck se aantekeninge die waarheid is. Ons verwys hier na opmerkings van ’n paar besoekers aan die Kaap gedurende die 17de eeu ná die koms van Van Riebeeck – ons gee die Engelse vertalings:
Johan Nieuhof (1654) skryf: “When Dutch ships arrive, these Hottentots or Strandlopers make for the galley and the cook’s kettle, and smear the soot and black from this into their hair, mixed with fat, and around their head and face, so as to shine throroughly and be brown and black, which they think a great adornement. By such smearing they look very grubby and dirty, and stink above measure …. the stink from their bodies can be perceived from a hundred paces distant.”
Wouter Schouten (1665) skryf: “They still go with only a dirty and greasy seal- or other beast-skin around their body, which, hanging from their necks, barely covers their upper bodies. Some have as ornaments the black dried stomach and guts of a slaughtered beast around their necks, which also serves some females instead of bracelets, golden jewels and armrings, so that being thus decked out they smelt horribly.”
Volquardt Iversen (1667/8) vertel die volgende: “They smear all their bodies with oil and the fat from the guts of slaughtered beasts in which the dung still remains, from which they give off a revoltings smell. They eat these guts without washing them, only scraping the dung out with their fingers and laying them a little on the embers, even before they are half-cooked; at times when they are very hungry they eat them entirely raw….. Their ornaments on arms and legs are copper rings, or for some of them also the raw guts of beasts which they also eat raw when they are somewhat dry. When it is cold they hang over their shoulders a lion-skin, or a cloak made of lion or goat skins, and this also they smear with oil so they stink nastily”.
John Ovington (1693): “The hair of their heads, and all their bodies are besmeared with kitchen-grease, tho’ never so stinking and loathsome, which when dissolv’d and heated by their bodies, sends from thence such an unsavoury smell, as may be scented at a furlongs distance, and nearer at hand it never fails of a strong emetick to a week stomach.”
Reeds op ‘n vroeë stadium nadat daar in die 17de eeu vir die eerste keer kontak tussen Westerlinge uit Europa en die plaaslike Khoi-bevolking aan die Kaap onstaan het, het die verhoudingsituasie tussen hierdie twee groepe sodanig ontplooi dat ’n mens met veiligheid kan sê dat daar geen etniese verbintenis was tussen die twee komponente nie. Die kultuurverskille was net eenvoudig te groot. Etnies het die Khoi naas die Westerlinge uit Europa bly voortleef, selfs ná die verbrokkeling van die Khoi in die 18de eeu as gevolg van ‘n pokke-epidemie (1713). Daar is egter uitsonderlike gevalle, soos dié van die Hottintottin Eva, ook bekend as Eva Krotoa.
Daar is baie min huwelike aan die Kaap tussen lede van die Khoi en Westerlinge uit Europa gesluit. Sover vasgestel kan word was daar in die 17de eeu slegs één geval, naamlik dié van Pieter van Meerhoff, wat met die Hottentottin Eva getrou het. Daar bestaan wel aanduidings dat ’n geringe aantal huwelike tussen Europeane en baster-Khoi gedurende die 18de eeu gesluit is. Die geval Eva is ‘n merkwaardige en besondere geval. Sy is vroeg in haar kinderjare deur Jan van Riebeeck se vrou aan huis geneem, vermoedelik as diensmeisie. In Oktober 1657 was sy na skatting 15 of 16 jaar oud. Van Riebeeck skryf op 31 Oktober 1657 in sy dagboek:”…. ende vernemen door hulpe van seeker meysken, by ons genaemt Eva, out 15 a 16 jaren den van den beginne by des Commandeurs vrouw aangehouden, mitsgaders nu vast hier blijvende ende fray duyts beginnende te leere spreecken”.
Eva het aan huis van Van Riebeeck as tolk opgetree en dikwels ook as adviseuse en gesant besondere dienste gelewer. Sy is deur die Van Riebeecks aan huis Hollandse gewoontes geleer en sy het Hollandse klere gedra, alhoewel Van Riebeeck skryf dat sy dit soms afgegooi het en die Khoi-krale in haar “velle” gaan besoek het. In 1659 arriveer daar aan die Kaap ’n soldaat uit Kopenhagen , Pieter van Meerhoff, wat ook beperkte mediese kennis gehad het. Van Meerhoff is tot onderbarbier benoem en was in 1660 lid van ’n ekspedisie wat in die rigting van Namakwaland verkenningswerk moes doen. Na bewering het Van Meerhoff twee buite-egtelike kinders by Eva verwek.
In April 1662 is Eva gedoop en gedurende dieselfde maand “loop” die gebooie van Pieter van Meerhoff (27 jaar) en Eva (21 jaar). Op 26 April 1662 teken goewerneur Wagenaar aan dat hierdie die eerste huwelik sal wees wat volgens Christelike gebruik met ’n inboorling van hierdie land sal plaasvind, terwyl Pieter en Eva inderdaad toe ook op 2 Junie 1664 getroud is. Eva het ’n bruidskat van 50 riksdaalders gehad, danksy die voortreflike diens wat sy aan die VOC bewys het. Pieter is hierna bevorder tot geneesheer en in Mei 1665 het hy superintendent van Robbeneiland geword. Daar is aanduidings dat ’n derde kind in hierdie tyd uit die huwelik gebore is. In 1667 moes Pieter in diens van die Kompanjie na oos-Afrika en Madagaskar, waar hy en agt van sy makkers vermoor is.
Eva het hierna as weduwee weer aan die Kaap gaan bly in ’n huis wat aan haar verskaf is. Sy het volgens sekere bronne ’n skandalige lewe gelei. Dit het na bewering so erg geword dat sy later haar drie kinders verlaat, na die Khoi uitgewyk en haar dikwels dronk gedrink het. Hierna is sy na Robbeneiland verban waar sy klaarblyklik die lewe aan nog drie kinders geskenk het voordat sy in 1674 op 31-jarige leeftyd oorlede is. Sommige van haar kinders is jonk dood. Dit is die tragiese verhaal van Eva Krotoa.
Kyk ’n mens vanuit ’n kultuuroogpunt na die lewensverhaal van Eva, sien ons hoedat sy aan Europeane groot dienste gelewer het, maar onder omstandighede wat uiteindelik vir haar ernstige probleme besorg het. Sy is ’n tipiese voorbeeld van iemand wat swewend was tussen twee kultuurwêrelde, en van twee lojaliteite wat met mekaar onversoenbaar was. Nadat haar twee ankers in die Westerse kultuur, die Van Riebeeck-gesin en haar man, weggeval het, het sy teruggeval na die wêreld waar sy begin het, maar onder verbysterende omstandighede. Sy het iemand sonder ’n etniese tuiste geword. Sy was nóg Westerling nóg Khoi; slegs drank en liggaamlike genot het nou nog aan haar geluk besorg.
Twee van Eva en Pieter se kinders, Pieternell en Salamon, is in 1677 saam met ene Bartolomeus Borus as sy aangenome kinders na Mauritius. Na bewering is een van Van Meerhoff se dogters (waarskynlik Pieternell wat Petronella geword het) met ’n ryk boer getroud wat onder kontrak patats op Mauritius geplant het; hy was ’n Hollander van Vlissingen. Hierdie Hollander het hom in 1709 met sy familie aan die Kaap gaan vestig. Daar is ’n redelike groot nageslag uit hierdie verbintenis gebore, deur die oudste seun (Pieter) en deur sy derde seun (Bartholomeus).
Daar was ook die Khoi-vrou Sara wat volgens sekere bronne Hollandse gewoontes aangeneem het in die 17de eeu. Sy het egter van jongs af in ontug geleef en haarself op 24-jarige leeftyd in Desember 1671 opgehang. Volgens een bron: “….because a loose Dutchman, in order to have free enjoyment of her, promised her marriage but failed of his word”. Sy is postuum in ooreenstemming met die Romeinse Reg opgehang omdat sy selfmoord gepleeg het. Daar is niks meer van haar bekend nie.
Uit bogenoemde en ander verhale in die literatuur kan ons aflei dat daar mans van Westerse afkoms was wat met Khoi-vroue in ontug geleef het. Hierdie Khoi-vroue was gereeld rondom die Fort in die Kaap. Goewerneur Wagenaar skryf aan sy opvolger in September 1866 oor een van die Khoi-stamme (Goringhaicona) soos volg – ons gebruik die Engelse vertaling: “….. these we have daily in our sight and about our ears, within and without the fort …. they now constitute a gang, including women and children, of 70, 80 or more. they make shift for themselves by night close by, in little hovels in the sand hills; in the day time, however, you may see some of the sluggards (luyaerts) helping to scour, wash, chop wood, fetch water, or herd sheep for our burgers, or boiling a pot of rice for some of our soldiers; but they will never set their hand to any wordk, or put one foot before the other, until you have promised to give them a good quantity of tobacco or food, or drink. Others of the lazy crew… live by begging, or seek subsistence by stealing and robbing on the common highways; particularly when they see these frequented by any novices out of ships from Europe.”
‘n Mens kan verwag dat dit veral die allerswakstes was wat vroue van bogenoemde aard vir ontugdoeleindes genader het. Nêrens in die literatuur vind ons tekens van ’n algemene sedelike insinking aan die Kaap nie. Waar morele standaarde nie onder die Christelike gewete gehandhaaf is nie, het dit onder streng dissipline geskied. In gevalle waar sulke onsedelike omgang plaasgevind het, is die kinders wat daardeur verwek is hoofsaaklik in die etniese verband van die moeder opgeneem. Dit is onwaarskynlik dat sulke omgang vrylik en algemeen plaasgevind het. Twintig jaar na die koms van Jan van Riebeeck was daar maar 221 mense van Westerse afkoms en 63 slawe aan die Kaap, en was die verhouding met die Khoi steeds gespanne.
Bronne:
Coertze, P.J. 1974: Gebeure en Ontwikkelinge in Afrika. Kaapstad.
Godée-Molsbergen, E.C. 1968: Jan van Riebeeck en sy tyd. Pretoria.
Heese, J.A. 1971: Die Herkoms van die Afrikaner 1657-1867, Kaapstad.
MacCrone, I.D. 1957: Race Attitudes in South Africa. Johannesburg.
Moodie, D. 1950: The Record I & III. Kaapstad.
Raven-Hart, R. 1971: Cape Good Hope, 1652-1702 I & II. Balkema, Kaapstad.
Van Riebeeck, J. 1884: Dagverhaal I-II: 1652-1658; III: 1659-1662
Tags: khoi, kultuurverskille


