Thursday, July 31, 2014

GRONDGEBIED

Print Friendly

OASE se voorgestelde grondgebied as lewensruimte vir Afrikaners in ’n onafhanklike staat

OASE se navorsingspan is nou reeds byna twee jaar besig om grondgebied te identifiseer waar Afrikaners aanspraak kan maak op selfbeskikking met die oog op eksterne selfbeskikking binne die raamwerk van internasionale regskriteria en die riglyne van die internasionale gemeenskap. OASE is as drukgroep op 2 September 2011 te Melrose-huis bekend gestel en ’n voorlopige kaart is toe saam met OASE se doelwitte vir die eerste keer gepubliseer.

Die internasionale reg bepaal uitdruklik dat ’n minderheidsvolk moet kan aandui dat hulle die permanente bewoners van ’n gebied is en dat die gebied duidelik afgebaken moet wees om ’n nuwe staat tot stand te kan bring waar so ’n volk onafhanklikheid kan geniet. Hierdie regskriteria word deur die Konvensie van Montevideo  uitgespel. Die grense van so ’n afgebakende gebied hoef geensins gefinaliseer te wees nie, aangesien dit een van die aspekte van die onderhandelingsproses is wat moet plaasvind vir die verkryging van onafhanklikheid oor ’n eie grondgebied. Benewens ’n duidelik afgebakende grondgebied, is daar ook ander regskriteria en internasionale riglyne wat ter sprake is by die identifisering van grondgebied vir ’n volk se selfbeskikking en al hierdie faktore word in ag geneem in die bespreking wat hieronder volg.

Daar is nou ’n stadium bereik waar al die relevante inligting rondom OASE se afgebakende gebied gepubliseer kan word, asook ’n ietwat aangepaste kaart wat ’n afgebakende gebied voorstel waar Afrikaners selfbeskikking behoort op te eis. OASE gaan intussen voort om Afrikaners bewus te maak van hul reg op onafhanklikheid oor ’n eie grondgebied as deel van die organisasie se doelwitte.

Hierdie inligtingstuk is opgedeel in die volgende onderafdelings en lesers kan op elkeen gaan kliek om vinnig toegang te kry tot die spesifieke onderwerp:

1.Historiese grondbesetting en staatkundige agtergrond

1.1 Die tydperk vóór Britse kolonisasie van die Kaap

1.2 Die tydperk vóór die Groot Trek

1.3 Die Groot Trek en daarná

1.4 Die sowereine Boere-republieke

1.5 Die Unie van SA

1.6 Die tydperk ná 1948

1.7 Die tydperk ná 1961

1.8 Suid-Afrika word ’n multikulturele demokrasie in 1994

2. Afrikaners se internasionale regsaanspraak op grondgebied

2.1 Gebiedsafbakening

2.2 Grondgebied in die voormalige soewereine Zuid-Afrikaansche Republiek

2.3 Grondgebied van die voormalige soewereine Republiek van die Oranje-Vrystaat

2.4 Opsomming van OASE se totale afgebakende gebied

2.5 Die status van Afrikaner-grondgebied ná 1994

3. Gevolgtrekkings

 

 


 

1. Historiese grondbesetting en staatkundige agtergrond

1.1 Die tydperk vóór Britse kolonisasie van die Kaap

Afrikaners het teen die tweede helfte van die 18de eeu reeds as ‘n volk beslag gekry in Suider-Afrika.  Hierdie nuwe etnos se voorsate was hoofsaaklik Westerlinge van Hollandse, Duitse en Franse oorsprong. Afrikaners het dus as Westerse volk in Afrika beslag gekry en kan met reg Euro-Afrikane genoem word, net soos mense van slawe-afkoms uit Afrika in die VSA vandag bekend staan as African Americans.  In teenstelling met African Americans het Afrikaners hul oorspronklike Westerse identiteit grootliks behou en kultureel nie vermeng met die meerderheid inwoners van Suid-Afrika, naamlik  Bantoetaalsprekende  Afrikane nie. Tot vandag toe is die oorgrote meerderheid Afrikaners Protestantse Christene, terwyl groot getalle swartes aan sinkretistiese kerke behoort, waar die meerderheid steeds glo aan die rol van voorvadergeeste en swart towerkragte.

Afrikaners ken egter geen ander vaderland as Suid-Afrika nie, en Willem Adriaan van der Stel het al in die vroeë 18de eeu besef dat “burgers” van Europese afkoms aan die Kaap niks anders as inheems aan Afrika is nie. Selfs die RSA se huidige president, mnr. Jacob Zuma verwys na Afrikaners as the white tribe of Africa.

Die Kaap was sedert die koms van Jan van Riebeeck in April 1652 onder bestuur van die Vereenigde Oost-Indische Compagne (VOC ), ’n Hollandse maatskappy met die Here XVII as direksie. Afrikaners het eers teen 1779 swart stamme van Afrika in groot getalle teëgekom in die Oos-Kaap.  Dit het onmiddellik tot grootskaalse konflik  gelei. Nie lank hierna nie, in 1795 het Groot-Brittanje die Kaap geannekseer  waar Afrikaners reeds tussen die ‘first nations’ (Khoi en San) van die gebied gevestig was.  Die gebied het tot teen die Oranjerivier gestrek.

Na aanleiding van verwikkelinge in Europa is die Kaap kragtens internasionale ooreenkoms deur Groot-Brittanje in 1803 aan die Bataafse Republiek (Holland) oorhandig, maar skaars drie jaar later in 1806 het die Britte dit weer ingeval en verower. Daarna het die Kaapkolonie, soos wat dit algemeen bekend gestaan het, ’n Britse kolonie gebly totdat dit in 1910 in die veel groter Unie van Suid-Afrika opgeneem is en daar selfregering aan blankes en kleurlinge toegeken is deur Groot-Brittanje. Die Britte was dus die eerste ware koloniseerders van die Kaap, maar op ’n stadium waar Afrikaners geen soewereiniteit oor enige deel van die gebied beskik het nie.

1.2 Die tydperk vóór die Groot Trek

In die tydperk net voor die Groot Trek (1836) het die binneland van Suid-Afrika grootskaalse ontwrigting beleef. Die gebied was vir eeue reeds deur die Khoi en die San bewoon, maar as gevolg van etniese konflikte verder noord onder swart Afrikastamme het hierdie stamme suidwaarts beweeg en die tradisionele grondgebied van die werklike ‘first nations’ van Suider-Afrika beset. Hierdie suidwaartse beweging van Bantoetaalsprekende swart stamme het oor ’n paar honderd jaar geduur.

Die meeste van hierdie swart  stamme was veeboere terwyl  sekere gewasse as deel van ’n bestaansekonomie verbou is. So ook die Ngunistamme, wat hoofsaaklik al langs die ooskus van Afrika suidwaarts getrek het omdat die kusvlakte uitstekende weiding vir hul vee gebied het. Teen 1779, min of meer dieselfde tyd as wat Afrikaners as etnos op Afrikabodem tot stand gekom het, het die voorste groep Nguni’s (Xhosas) reeds so ver gevorder as die Sondagsrivier in die Oos-Kaap. Dit was hier waar Afrikanerpioniers vir die eerste keer met groot getalle swartmense van Afrika te make gekry het. Hierdie botsing van twee uiteenlopende kulture het onmiddellik tot grootskaalse konflik tussen die twee groepe gelei.

Kort op die hakke van die Xhosas was ander Ngunistamme, waaronder die Zoeloes wat in die gebied gevestig het wat later bekend sou staan as Natal. Die Zoeloestam was nie baie groot nie, maar is teen 1815 uitgebou tot ’n magtige ryk onder die tiran Shaka, die seun van Senzangakhona. Shaka het terreurveldtogte teen omliggende Nguni-stamme gevoer en op so ‘n wyse die Zoeloe-koninkryk tot stand gebring. Hierdie ryk het gestrek vanaf die suide van Natal tot teen die gebied wat vandag bekend staan as Swaziland en Mosambiek in die noorde, met as westelike grens die Drakensberge en in die ooste die Indiese Oseaan.

Shaka se uitbreidingsdrang het egter nie in Natal opgehou nie en mettertyd is ander swart stamme, hoofsaaklik Sotho-Tswanasprekend, op die hooglande wes van die Drakensbergreeks ook aangeval. Hierdie Sotho-Tswanasprekendes was stamme wat vanuit ’n noordwestelike rigting suidwaarts getrek het en in die droë westelike dele van suidelike Afrika gaan vestig het. In baie gevalle is hierdie mense deur Shaka se moordlustige bendes uitgemoor en dan is hulle vee teruggevoer na Natal waar die Zoeloe-koninkryk permanent gevestig was. Hierdie tydperk staan in SA se geskiedenis bekend as die difaqane/lifaqane of mfecane en het min of meer van 1815 tot ongeveer 1840 geduur. Die mees omvattende literatuur hieroor is die boek van Omer-Cooper: The Zulu Aftermath.

Die Sotho-Tswanasprekende stamme, wat in die droër westelike savanne van SA en vanaf die Bankenveld noordwaarts in ’n klimaatvriendelike omgewing met natuurlike bome (vir hout) gevestig was, het gedurende somermaande hul vee op die welige grasvelde van die koeler hooglande laat wei. Die grootste deel van hierdie hooglandgebied is grasvlakte en somerreënval-gebied waar daar geen inheemse bome en weinig struikgewasse voorkom, en waar natuurlike weiding doodryp in die strawwe winters waarvoor die gebied alombekend is. Swart Afrikastamme en die Khoi (of Hottentotte, wat ook veeboere was) het nie oor die tegnologiese vlak van ontwikkeling beskik om in die ongenaakbare winters met hul vee op die hoëveld van Suid-Afrika te oorleef nie en kon dus nie permanent in hierdie gebied vestig nie. Die San (of Boesmans) was nomadiese versamelaars en jagters wat ook op die hoëveld aktief was in die somermaande wanneer die weiding met die koms van somerreëns herstel en groot troppe wild vanaf warmer dele daarheen gemigreer het.

Alle swart stamme wat reeds teen 1800 in Suider-Afrika teenwoordig was, was grootliks afhanklik van veeboerdery en in ‘n beperkte mate van die verbouing van somergewasse. Alhoewel die somerweiding op die RSA-hooglande van die beste gehalte is, is die benutbaarheid daarvan beperk tot die somermaande. Dit geld ook vir die verbouing van gewasse. Die reënseisoen begin eers in Oktober van elke jaar en dan duur dit minstens vier weke voordat die natuurlike weiding begin herstel. Die weiding word meestal eers vanaf November geskik vir benutting deur vee, mits daar nie droogtetoestande heers nie en die reënseisoen betyds aanbreek. Teen die einde van Maart begin die gehalte van die weiding drasties afneem en teen Meimaand ryp alle inheemse flora dood. Dit beteken dat vanaf April/Mei tot November, gemiddeld 6 maande van die jaar, die natuurlike weiding van die hoëveld vir alle praktiese doeleindes onbenutbaar is.

Veldbrande wat deur mense, maar ook deur die weerlig veroorsaak word, saai dikwels grootskaalse verwoesting wanneer die grasvlaktes in die winter verdor is en slegs endemiese wildspesies soos swart wildebeeste, blesbokke, Duikers en Steenbokke daarop kan oorleef. Hierdie endemiese wildspesies verlaat dan sulke verskroeide aarde op soek na ander weiding. Sulke veldbrande word vererger gedurende Augustus wanneer sterk winde oor die gebied waai en groot oppervlaktes binne ’n kort tyd afbrand. Die gebied is ook bekend vir sporadiese droogtetoestande wanneer natuurlike waterbronne soos fonteine en spruite soms in sulke droogtegeteisterde streke opdroog.

Bogemelde Sotho-Tswanasprekende-stamme was teen die begin van die 1800’s lankal afhanklik van die hoëveld se somerweiding vir hul groot troppe vee, en die strooptogte van die Zoeloes het uiteindelik daartoe gelei dat die Sotho-Tswanas meer permanente klipstrukture veral op die hoërliggende heuwels en koppies van die hoëveld opgerig het as verdedigingstrukture. Ruïnes van hierdie klipstrukture is deur Afrikanerpioniers op die ontvolkte hoëveld aangetref en klipfondasiereste hiervan is vandag nog  duidelik sigbaar in sekere dele van die hoëveld. Dit het in die pioniersera dikwels daartoe gelei dat Afrikanerboere hul plase ‘Kafferskraal ‘ genoem het wat dan ook later so in die aktekantoor geregistreer is. In die kortstondige eerste Britse koloniale besettingsperiode van die ZAR tussen 1877 en 1884, het Britse landmeters sulke plase soms in die Engelse spelvorm geregistreer as ‘Kaffirs Kraal’.

Vroeg in die 1820’s het een van Shaka se veggeneraals, Mzilikazi, weggebreek van die Zoeloes en op dieselfde wyse as Shaka ook hoofsaaklik Sotho-Tswanas en ander kleiner swart groepe in die binneland aangeval. Volwasse mans is uitgemoor en die vroue en kinders is by Mzilikazi se eie groep, die Matabeles, ingelyf. Mzilikazi het onder andere ’n deel van die Suid-Ndebele, of Transvaalse Ndebele soos wat hulle ook bekend staan en wat by Wonderboom Noord van Pretoria langs die Apiesrivier gevestig was, uitgemoor en die gebied permanent beset. Van hier af het Mzilikazi veral Sotho-Tswanas wat Wes van Pretoria gevestig was uitgemoor en uiteindelik die gebied vanaf Pretoria tot by Zeerust beset.

In 1829 is die tiran Shaka deur sy halfbroer, Dingane, vermoor wat toe koning van die Zoeloes in Natal geword het. Dingane het dieselfde wrede taktiek van sy voorganger op ander swart stamme toegepas en sommige historici suggereer dat hy selfs wreder was as Shaka. Teen 1830 was die binneland van die RSA een groot menseslagveld en sommige sendelinge, soos die Fransman Ellenberger, praat van honderdduisende slagoffers. Britse sendelinge, soos Moffat en ander, beaam hierdie gebeure in hul geskrifte.

Die menseslagting was natuurlik nie beperk tot bogemelde Nguni-opperhoofde se optredes nie, maar het ook vele ander onderlinge stamgevegte tussen die verskillende swart groepe en selfs onderling tussen die Khoi en die San van Suider-Afrika ingesluit. Benewens Mzilikazi wat in die omgewing van Pretoria sy hoofstat gevestig het, was daar ook ’n swart groep wat bekend gestaan het as die Mantatese en wat ook grootskaalse verwoesting suidwaarts aangerig en baie mense uitgemoor het. In die verre Westelike dele van die land was daar Khoi-groepe soos die Korannas, Oorlamse en die Griekwas wat gereeld slaags was met Tswanasprekendes van daardie geweste. Tydens hierdie volksmoord-toestande is die beleid van verskroeide aarde dikwels toegepas en kon mens of dier meestal niks vind om te eet nie. Daar is sommige bronne wat selfs beweer dat kannibalegedrag tussen sekere swartmense hieruit voortgespruit het, bloot omdat daar werklik niks anders op die verwoeste vlaktes van die hooglande van SA oor was om te eet nie.

Teen ongeveer 1832 is Mzilikazi deur Dingane se strydmagte aangeval en uit Pretoria-omgewing verdryf waarna die gebied ontvolk was. Mzilikazi, of Silkaats soos wat hy by die Voortrekkers bekend was, het toe sy hoofstat na Mosega in Wes-Transvaal verskuif.

Daar het in die 1990’s onder links-liberale akademici allerlei teorieë ontstaan dat die difaqane ‘n mite is en dat dit geskiedenis is wat uit ‘n eurosentriese hoek geskryf is. Veral prof. Cobbing van die Universiteit van Rhodes het die bestaan van die difaqane tot ’n groot mate ontken en ene Richner het hieroor ‘n MA-verhandeling geskryf wat so reg in Cobbing se kraal gepas het. Baie navorsers soos antropoloë, ook uit die buiteland, sien Cobbing en ander se ontkenning van die difaqane as ongefundeerd. Selfs die linkse prof. Peter Delius lewer in ‘n resente en baie interessante artikel ‘n pleidooi dat navorsers tog maar weer sal gaan kyk na wat die werklike oorspronklike bronne, vernaamlik van sendelinge, oor die betrokke era in ons land se geskiedenis te sê het.

Die feit van die saak is dat, bo en behalwe die difaqane, swart stamme van Afrika nie oor die tegnologiese vlak van ontwikkeling beskik het teen 1835 om in die strawwe wintermaande op die hoogland van Suid-Afrika te kon oorleef nie en dus daar permanent te vestig nie. Afrikanerpioniers met hul Westerse beskawing het duidelik wel oor hierdie vlak van ontwikkeling beskik, omdat hulle tydens en onmiddellik ná die Groot Trek wel permanent in die gebied gevestig het. Daar word dikwels klem gelê op die waarde van swart inheemse volke se kragtige mondelinge oorlewering as ‘n vorm van betroubare geskiedenisbronne. In Afrikaners se geval bestaan daar onbetwisbare geskrewe bronne, maar ook sterk mondelinge oorlewering dat die grootste dele van die Transvaalse en Vrystaatse hoëveld ontvolk was toe die Voortrekkers hierdie gebied vir die eerste keer sedert 1836 permanent beset het.

1.3 Die Groot Trek en daarná

Afrikaners, met hul eiesoortige kultuur en waardestelsel, kon moeilik aanpas by die nuwe Britse heerskappy nadat die Kaap finaal deur Groot-Brittanje in 1806 gekoloniseer is. Sommige Afrikanerboere was teen 1835 reeds noord van die Oranjerivier in die gebied wes van die Caledonrivier gevestig. Teen 1836 het veral Afrikaners wat as veeboere in die Oos-Kaap gevestig was, die Britse heerskappy afgeskud en dieper die binneland ingetrek – dit het bekend gestaan as die Groot Trek . Die manifes van Piet Retief, een van die Trekkerleiers, bevat die belangrikste redes vir die Groot Trek. Die Groot Trek kan met reg beskou word as die vertrekpunt van ’n gedeelde historiese tradisie vir Afrikaners wat nie bereid was om onder Britse kolonisasie te leef nie. Nagenoeg 12 000 mense het deelgeneem aan die Groot Trek. Met verloop van tyd het nog groot getalle Afrikaners die Kaapkolonie verlaat om by hul familie en vriende in die binneland aan te sluit.

Die koms van die Voortrekkers word allerweë beskou as die einde van die difaqane-era, veral omdat Mzilikazi se Matabele-mag deur die Voortrekkers by Vegkop in die Vrystaat verslaan is en sy mag finaal by Mosega in Januarie 1837 verbreek is. Hierna het Mzilikazi en sy volgelinge die gebied verlaat en uiteindelik by Bulawayo in Zimbabwe gaan vestig waar hulle nageslag tot vandag toe permanent woon. Terselfdertyd is Dingane en die Zoeloemag in Desember 1838 finaal tydens die Slag van Bloedrivier naby Dundee in Natal verslaan.

Ongeag die feit dat die hoëveldgebied geen werklike permanente besetting voor die koms van Afrikanerpioniers geken het nie, aanvaar die internasionale reg en gemeenskap dat grondgebied wat gedurende die 19de eeu hetsy deur middel van verowering of per sessie (ooreenkoms) bekom is, grondgebied is wat wettiglik deur die nuwe besetters bekom is indien hulle dit tot vandag toe permanent bewoon. Dit is ook die basis van mense van Westerse afkoms se aanspraak op grondgebied in Noord- en Suid-Amerika, Kanada, Australië en Nieu-Zeeland. Afrikaners is vandag nie net die permanente bewoners van die RSA se hooglande nie, maar ook by verre die grootste grondbesitters daarvan.

Onderlinge struwelinge tussen die Voortrekkers en hul onmiddellike nageslag het veroorsaak dat verskeie klein Boererepublieke oral in die binneland en in Natal in die tydperk onmiddellik ná die Groot Trek tot stand gekom het. Die eerste hiervan was die Voortrekker-republiek wat die gebied beslaan het soos omskryf in die Traktaat aangegaan tussen die Zoeloekoning, Dingane, en die Trekkerleier, Piet Retief. Retief en sy manskappe is in Februarie 1838 kort na die ondertekening van die Traktaat, wat ook deur die Britse sendeling Owen as getuie onderteken is, wreedaardig deur Dingane by Umgungundlovu in Natal vermoor. Hierna het die Slag van Bloedrivier op 16 Desember 1838 gevolg waar die Voortrekkers onder leiding van Andries Pretorius finaal die Zoeloemag verslaan het.

Die Voortrekkers het toe ’n verdere ooreenkoms met die Zoeloes in Natal aangegaan en slegs die gebied in Natal beset soos omskryf in gemelde Traktaat, waarna die Voortrekkers en Zoeloes in vrede naasmekaar geleef het. Teen 1842 het Groot-Brittanje sy imperialistiese drange uitgebrei en die Voortrekker-republiek, ook bekend as die Republiek van Natalia, geanneekseer en dit ’n Britse kolonie gemaak. In die jare wat daarop gevolg het, het baie Natalse Voortrekkers en hul nageslag die gebied verlaat en sommige het tussen die Zoeloes in die noorde van Natal (Zoeloeland) gaan boer, terwyl ander weswaarts teruggetrek het oor die Drakensberge om in die Vrystaat en Transvaal te gaan vestig.

Dit moet in ag geneem word dat Afrikanerpioniers groot stukke grondgebied wat al vir eeue deur Khoi- en San-gemeenskappe asook swart stamme van Afrika permanent beset is, binnegetrek en ook net beset het tydens en na die Groot-Trek. Sulke gebeure het gereeld tot onderlinge struwelinge gelei waarby die Britte as werklike koloniseerders van suidelike Afrika dikwels betrokke geraak het. Die werksaamhede van veral Britse sendelinge, wat reeds voor die Groot Trek tussen die Khoi van die Noord-Kaap en baie swart stamme noord van die Oranjerivier aanwesig was, het dikwels die Voortrekkers se saak ondermyn en openlik kant gekies vir die ander groepe.

1.4 Die sowereine Boere-republieke

Bogenoemde stand van sake was teen 1852 heelwat meer stabiel nadat die Zuid-Afrikaansche Republiek in die gebied bekend as Transvaal tussen die Vaal- en Limpoporivier tot stand gekom het en die soewereiniteit daarvan kragtens die Konvensie van Sandrivier deur Groot-Brittanje erken is. Twee jaar later het Groot-Brittanje ook die soewereiniteit van die Republiek van die Oranje-Vrystaat (tussen die Oranjerivier in die suide en die Vaalrivier in die noorde) erken kragtens die Konvensie van Bloemfontein. Tereselfdertyd het  ’n groep boere wat in die omgewing van die huidige Utrecht in Natal tussen die Zoeloes gaan boer het, in 1854 grondgebied by die Zoeloe-opperhoof, Cetswayo, aangekoop en die Republiek van Utrecht uitgeroep; die gebied is dus per wettige sessie deur Afrikaners bekom en reeds teen 1860 by die soewereine ZAR ingelyf.

In 1877 het Groot-Brittanje hul imperialistiese drange verder versprei en die ZAR (Transvaal) ook geannekseer. Dit het uitgeloop op die Eerste Vryheidsoorlog waar die Boere die Britte by die Slag van Majuba op 27 Februarie 1881 verslaan het, en waarna die Transvaal (ZAR) se soewereiniteit met die Konvensie van Londen in 1884 weer eens deur Groot-Brittanje erken is.

In dieselfde jaar (1884) het genl. Lucas Meyer, wat in Noord-Natal saam met ’n groep ander Boere tussen die Zoeloes geboer het, grondgebied by die jong Zoeloekoning, Dinizulu, bekom en die Nieuwe Republiek in Augustus 1884 uitgeroep. Die onderhandelinge vir hierdie grondgebied, wat gestrek het van die Drakensberge in die weste tot die Indiese Oseaan in die ooste, en van Swaziland in die noorde tot die Umfolozi-rivier in die suide, is afgesluit in teenwoordigheid van ’n Duitse sekretaris, ene Schiel. Hierdie grondgebied, wat per wettige sessie deur Afrikanerpioniers bekom is, het toegang tot die see gebied en het sonder twyfel die kusgebied ingesluit tussen die Umfolozi-rivier en Kosibaai waar dit grens aan Mosambiek wat destyds Portugese gebied was.

Toe Groot-Brittanje besef dat genl. Meyer en sy mense toegang tot die see gekry het, het gerugte in Europa begin versprei dat Brittanje beoog om die hele kusvlakte vanaf hul Natalse kolonie noordwaarts tot by Beira te annekseer. Die Duitsers, wat ’n Lutherse sendingstasie by Luneburg in Noord-Natal  tussen die Zoeloes bedryf het, het toe aan gemelde Schiel opdrag gegee om ’n afsonderlike ooreenkoms met Dinizulu aan te gaan wat bevestig dat die kusgedeelte by St Luciabaai deur Dinizulu aan die Duitsers afgestaan word. Hierdie tweede ooreenkoms waarby die Duitser Schiel betrokke was, is in November 1884 aangegaan en skaars ’n maand later, in Desember 1884, het Groot-Brittanje voortgegaan om inderdaad die kusvlakte soos gemeld tot by Beira te beset en te annekseer. Duitsland, Portugal en die ZAR as soewereine state het onmiddellik hierteen beswaar gemaak en Portugal kon daarin slaag om ’n internasionale arbiter aangestel te kry. Die arbiter het beslis dat die kusvlakte vanaf Kosibaai tot by Beira inderdaad Portugese gebied is, maar genl. Meyer, wat skaars ’n republiek tot stand gebring het (Augustus 1884), moes uiteindelik swig voor die Britte en die kusgedeelte van die Nieuwe Republiek is aan Groot-Brittanje afgestaan. Die gebied wat oorgebly het, het later bekend gestaan as die Republiek van Vryheid wat in 1888 by die soewereine ZAR ingelyf is.

Sowel die grondgebied van die Republiek van Utrecht as van die Republiek van Vryheid was dus alles deel van die ZAR toe Brittanje dit tesame met die Republiek van die Oranje-Vrystaat tydens die Anglo-Boereoorlog verower en finaal gekoloniseer het met die Vrede van Vereniging op 31 Mei 1902. Hierdie Vredesverdrag is in Melrose-huis, Pretoria onderteken waar OASE op 2 September 2011 in ’n simboliese gebaar amptelik aan die media en die publiek bekend gestel is.

Dit blyk dus duidelik uit bogenoemde dat Afrikaners sedert hul ontstaan as volk nooit enige sowereiniteit oor grondgebied in die Kaap geniet het nie.

1.5 Die Unie van SA

Die Unie van SA het tot stand gekom nadat Groot-Brittanje die twee soewereine Boere-republieke (Zuid-Afrikaansche Republiek en Republiek van die Oranje-Vrystaat) tydens ’n wrede en uitgerekte oorlog verower het en die grondgebied saamgevoeg is tot die twee Britse kolonies, Natal en die Kaap, om sodoende ’n selfregerende staat te word waarin slegs blankes en kleurlinge stemreg gehad het. Die Britse politieke stelsel bekend as die Westminster-stelsel was ook op die Unie van SA van toepassing. Die Suid-Afrikaanse Party (Sappe) van genl. Louis Botha het die eerste verkiesing gewen en Botha is aangestel as die Unie se eersteminister.

Met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog in 1914 was Afrikaners grootliks verdeeld oor deelname aan hierdie oorlog nadat Groot-Brittanje die Unie-parlement versoek het om Duitswes-Afrika (Namibië) van die Duitsers te gaan verower. Baie Afrikaners was nie ten gunste daarvan om teen Duitsland oorlog te voer nie, aangesien die Duitsers hulle skaars twaalf jaar tevore van wapens, ammunisie en morele steun voorsien het teen Groot-Brittanje tydens die Anglo-Boereoorlog. Tydens ’n parlementsitting in die Kaap het die meerderheid Unie-parlementslede ten gunste van deelname aan die oorlog gestem en die Unieregering het troepe opgekommandeer om Duitswes-Afrika namens Groot-Brittanje te gaan verower, waarin hulle ook geslaag het. Die groot tweespalt tussen Afrikaners het uitgeloop op die Rebellie van 1914 waar rebelleleiers soos genl. Christiaan de Wet en ander deur regeringstroeope van genl. Botha in hegtenis geneem, aan hoogverraad skuldig bevind en tronkstraf opgelê is.

Na die afsterwe van genl. Botha in 1919, het genl. J.C. Smuts leier van die Suid-Afrikaanse Party en eersteminister van die Unie van SA geword. Die tweespalt in Afrikanergeledere het voortgeduur en teen 1922 het die Nasionale Party (nie die een van 1948 wat apartheid as staatkundige beleid deurgevoer het nie) van genl. J.B.M. Hertzog die verkiesing gewen. Hertzog was ’n ware nasionalis en hy het gesorg dat Afrikaans amptelike status in die parlement gekry het in 1925. Teen daardie tyd was Afrikaans lankal die omgangstaal van Afrikaners en nie meer Nederlands nie.

In 1933 het daar ’n wêrelddepressie uitgebreek en is  die sogenaamde Paktregering, ’n koalisie tussen Hertzog se NP en Smuts se SAP gevorm wat later oorgegaan het in die Verenigde Party waarvan genl. Smuts die leier was.

1.6 Die tydperk ná 1948

Teen 1910 was die druk van ander Afrika-lande wat steeds onder koloniale juk geleef het, nog nie so sterk soos in die geval van Afrikaners teenoor Groot-Brittanje as koloniale moondheid nie. ’n Dreigende oorlog in Europa het onder andere  veroorsaak dat Groot-Brittanje reeds teen 1909 toegegee het onder hierdie druk wat dan gelei het tot die totstandkoming van die Unie van SA in 1910 en waarin alle blankes ’n groot mate van selfbeskikking geniet het. Die argument kan gehuldig word dat die unifikasie van Suid-Afrika, wat ook dus ’n koloniale besluit was, op die lang duur Afrikaners van hul aanspraak op eksterne selfbeskikking ontneem het. Teen die tyd dat ander Afrikalande die juk van kolonialisme afgeskud en ten volle onafhanklike geword het (hoofsaaklik in die tweede helfte van die 20ste eeu), was Suid-Afrika as selfregerende eenheidstaat al lankal ’n tipiese koloniale sameraapsel van verskillende etniese identiteite, waarvan die Afrikaner as die sterkste na vore getree het.

Met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog in 1939 was Afrikaners steeds polities verdeeld in twee sterk groepe, naamlik die Verenigde Party onder leiding van genl. Smuts, ’n generaal uit die Boere-oorlog en regsgeleerde wat toe ook die land se eersteminister was, en die (nuwe) Nasionale Party onder leiding van dr. D.F. Malan, ’n Afrikaner-nasionalis en teoloog. In 1948 het die Nasionale Party van dr. D.F. Malan die algemene verkiesing gewen en die meeste Afrikaners het dit as ’n oorwinning vir hul vryheidstrewes sedert die Anglo-Boereoorlog beskou.

Die NP het besef dat die kwessie van swartmense wat nie stemreg in SA geniet nie, ’n ernstige probleem sou bied vir die land se toekoms en daar is toe besluit op die staatkundige beleid van afsonderlike ontwikkeling. Hiervolgens sou nege swart etniese groepe hul eie grondgebied kry, hoofsaaklik waar hulle tradisioneel gevestig was toe Afrikanerpioniers die binneland beset het. Dit het daarop neergekom dat swartmense grondgebied wat hulle tradisioneel beset het en waaraan daar reeds in 1913 met die Naturelle Grondwet erkenning gegee is, as hul permanente grondgebied kon beskou en uiteindelik volle onafhanklikheid op daardie grondgebied kon geniet. Die 1913-wetgewing is in 1936 verder uitgebou met die Bantoetrust- en Administrasiewet. Terselfdertyd is bruinmense, of Kleurlinge soos wat hulle bekend gestaan het, se stemreg by hulle weggeneem en in die plek daarvan is ’n Kleurling Verteenwoordigende Raad ingestel, asook ’n liggaam bekend as die Indiër Raad van Afgevaardigdes.

Dr. Malan is opgevolg deur adv. J.G. Strydom as eersteminister van die Unie van SA en hy was van mening dat SA so gou as moontlike ’n volwaardige republiek moes word ter wille van algehele soewereiniteit. Adv. Strydom is onverwags oorlede en in 1959 deur dr. H.F. Verwoerd opgevolg as eersteminister. Die republikeinse ideaal van adv. Strydom is deur dr. Verwoerd verwesenlik toe SA op 31 Mei 1961 ’n vrye republiek geword en volle soewereiniteit ontvang het. Die Unie van SA was ’n lid van die Britse Gemenebes van Nasies (British Commonwealth) en omdat die meeste ander lidlande die NP se beleid van afsonderlike ontwikkeling teengestaan het, het SA ’n republiek buite die Britse Gemenebes geword, nadat ’n meerderheid stemgeregtigdes (blankes) in SA ten gunste daarvan gestem het in ’n referendum.

In hierdie proses het Afrikaners, met hul sterk Westerse kulturele identiteit en waardestelsels, besef dat hulle as klein minderheid nie alleen politieke magte oor die eenheidstaat sal kan uitoefen nie. Onder leiding van die Nasionale Party is daar toe in die 1950’s besluit op ‘n beleid van afsonderlike ontwikkeling wat mettertyd as apartheid  bekend gestaan het. Hiervolgens sou nege swart etniese groepe uiteindelik oor hul eie grondgebied beskik en ten volle onafhanklik kon word. Dit was duidelik ’n poging van Afrikaners en hul kultuurgenote van Britse afkoms om hul eie voortbestaan te waarborg te midde van ’n groot meerderheid van swartmense uit Afrika en waarvan die twee groepe se kultuur en waardestelsels tot vandag toe diepliggend van mekaar verskil. Lees ’n mens vandag die toespraak wat dr. H.F. Verwoerd in die Savoy-hotel voor die Suid-Afrikaklub in Londen in 1960 gelewer het, ontstaan daar ’n mate van begrip vir hoe daar destyds oor sake van hierdie aard geredeneer is.

Die groot getalle burgers van Britse afkoms in Suid-Afrika deel tot ’n groot mate in Afrikaners se Europese kulturele identiteit. Die gevolge van Uniewording in 1910, waarna slegs wittes en kleurlinge stemreg geniet het, was dat apartheid as rasgebaseerde staatsbestel vir ’n bepaalde tyd inslag gevind het binne die eenheid van die Unie. Apartheid was egter nie volhoubaar nie, veral omdat dit op alle vlakke van die samelewing tot rassediskriminasie gelei het in ’n post-Tweede Wêreldoorlog- tydsgees waarin diskriminasie op grond van ras waarskynlik die grootste euwel van die 20ste eeu geword het. Dit moet ook onthou word dat rassediskriminasie aan die orde van die dag was in verskeie ander lande soos die VSA en Australië wat deel van die ‘nuwe’ wêreld is en wat ontstaan het as gevolg van kolonialisme.

1.7 Die tydperk ná 1961

Teen die tyd dat Suid-Afrika as gevolg van Afrikaners se volgehoue vryheidstrewe ’n volwaardige republiek in 1961 onder die Nasionale Party en dus hoofsaaklik ‘n Afrikaner-regime geword het,  was rassediskriminasie beslis nie beperk tot Suid-Afrika nie. So byvoorbeeld het swart Amerikaanse burgers eers in 1965 stemreg gekry. In Australië het sake eers in 1962 gunstig begin raak vir die Aborigines, terwyl hulle eers in 1967 (ongeveer een jaar ná die dood van dr. Hendrik Verwoerd wat allerweë beskou word as die vader van apartheid) volle stemreg gekry het en vir die eerste keer as mense getel is in die staat se sensusopames – voor daardie tyd  was hulle beskou as deel van die fauna en flora van die land. Intussen moes die inheemses (Aborigines) steeds op ’n aparte kiesersrol registreer om deel te kon neem aan algemene verkiesings, wat eers in 1983 afgeskaf is omdat dit op niks anders neerkom as rassime nie. Burgers van Britse en Europese afkoms het as gevolg van kolonisasie en ’n toestroming van getalle, maar ook as gevolg van grootskaalse uitwissing van die inheemse bevolking, reeds op ’n vroeë stadium van kolonisasie die meerderheid mense geword van lande soos Noord-Amerika, Kanada, Australië en Nieu-Zeeland. Die gevolg hiervan is dat die kulture en waardestelsels van daardie lande se inheemse bevolking weinig bedreiging vir die voortbestaan van Westerlinge in hul  nuutgevonde vaderland ingehou het. Vir Afrikaners, wat as inheemse volk op Afrikabodem tot stand gekom en nog altyd in die minderheid was, het dieselfde getallevoordeel dus nooit gegeld nie.

Dr. Verwoerd se bootstelling aan Europa met sy verskeidenheid van volke of nasies en soewereine state, het by hom die gedagte laat ontstaan dat Suid-Afrika staatkundig soos ’n soort  gemenebes van nasies kan ontwikkel waar blankes (d.w.s. Afrikaans- en Engelssprekende wittes) in ’n eie grondgebied naas nege verskillende swart etniese groepe, ook elkeen met hul eie grondgebied, vreedsaam kan saamleef met as einddoel dat die swart state of tuislande volle onafhanklikheid sou kry. Ongelukkig het hierdie staatkundige model, wat bekend gestaan het as afsonderlike ontwikkeling, ook afsonderlikheid of apartheid in die alledaagse lewe statutêr op die inwoners van SA afgedwing en dit het tot groot weerstand in die buiteland gelei, en mettertyd ook onder groot getalle swartmense wat tot grootskaalse verset teen die beleidsrigting oorgegaan het.  Verskeie swart organisasies is gestig as deel van swartmense se weerstand, en die African National Congress (ANC) wat al in 1912 gestig is, se steun het dramaties begin toeneem. Voortdurende onluste en geweldsaksies onder swartmense het daartoe gelei dat sulke organisasies teen 1960 verban is, insluitend die ANC en die SA Kommuniste Party. Die leier van die ANC op daardie stadium, Nelson Mandela, is saam met ’n aantal ander opstandelinge skuldig bevind aan hoogverraad en lewenslange tronkstraf opgelê.

Op 6 September 1966 is dr. Verwoerd in die parlementsgebou in Kaapstad deur ene Dimitri Tsafendas met ’n dolk doodgesteek en het adv. B.J. Vorster die nuwe eersteminister van die RSA geword. Adv. Vorster was gedurende die Tweede Wêreldoorlog (1939 – 1945) ’n lid van die Ossewa-Brandwag, ’n militante organisasie wat gehoop het om die Britse oorheersing van SA omver te werp. Vorster en heelwat OB-lede is destyds gearresteer en in interneringskampe aangehou waar hulle later na afloop van die oorlog vrygelaat is. Waar dr. Verwoerd dit voor sy dood baie duidelik gestel het dat “blankes” uiteindelik met baie kleiner grondgebied tevrede sou moes wees as sy beleid van afsonderlike ontwikkeling tot sy volle konsekwensies deurgevoer sou word, het mnr. Vorster minder klem gelê op die belangrikheid hiervan en eerder gefokus op buitelandse betrekkinge met die hoop dat die internasionale gemeenskap tog maar die beleid van apartheid sou aanvaar.

Sake het egter nie verloop soos wat die Nasionale Party gehoop het nie. Teen 1973 is apartheid deur die VN verklaar tot ’n misdaad teen die mensdom. Die druk vanuit die buiteland en binnelandse onluste onder swartmesnse het so sterk geword dat die volgende eersteminister, mnr. P.W. Botha vanaf sy toetrede as NP-leier in 1978 ’n afgewaterde benadering begin handhaaf het wat betref apartheid. So bv. is openbare geriewe in sy tyd oopgestel vir alle rasse en het die driekamerparlement tot stand gekom waar Indiërs en Kleurlinge weer stemreg gekry het en deel geword het van die RSA se parlementêre stelsel. In mnr. P.W. Botha se tyd is die ampte van uitvoerende eersteminister en seremoniële staatspresident saamgevoeg tot een amp, naamlik president van die RSA.

Die Nasionale Party het besef dat die tradisionele grondgebied van swartmense binne die RSA, wat uit groot getalle stukkies grond bestaan het, stelselmatig gekonsolideer sou moes word ten einde in die langtermyn administreerbaar te wees. Groot stukke grond is vervolgens in die tydperk 1965 tot 1990 van wit boere onteien en oorgedra aan sogenaamde swart tuislandregerings. Teen 1994 het vier van hierdie nege swart tuislande, naamlik Transkei, Ciskei, Buphuthatswana en Venda reeds volle onafhanklikheid geniet, alhoewel dit nie deur die internasionale gemeenskap erken is nie en dus nie soewereine state was nie. As voorbeelde noem ons die volgende:

* Die twee gemelde swart tuislande Transkei en Ciskei het al in 1970 – dus voor konsolidasie – gesamentlik reeds 5 miljoen hektaar grondgebied beslaan waar alle Xhosa-sprekendes teen 1994 politieke onafhanklikheid en volle outonomie geniet het.

* Die swart tuisland Bophuthatswana het al in 1970 (d.w.s. ook voor konsolidasie) nagenoeg 4 miljoen hektaar beslaan waar alle Tswanas van die RSA teen 1994 onafhanklikheid en volle outonomie geniet het.

Die ANC en hul bondgenote, wat met die demokratiese verkiesing in April 1994 aan bewind gekom het, ignoreer vandag gerieflikheidshalwe bogenoemde feite.

Die NP het sedert hul oorwining in 1948 van krag tot krag gegroei, maar in 1982 het die party in twee geskeur toe dr. A.P. Treurnicht met ’n aantal  NP-parlementariërs die Konserwatiewe Party gestig het.  Teen 1989, na twee algemene verkiesings, het die NP geweldig steun ten gunste van die KP verloor. In 1989 het mnr. P.W. Botha ’n ernstige beroerte gekry en is hy deur mnr. F.W. de Klerk opgevolg as leier van die NP wat toe ook president van die RSA geword het.  Met die val van kommunisme in die Sowjetunie en Oos-Europa in 1989 het die wêreldorde drasties verander en het buitelandse druk op die RSA-regering toegeneem om die ANC, wat deur SA en die meeste Westerse lande as ’n terroriste-organisasie beskou is te ontban, en sy leier mnr. Nelson Mandela na 27 jaar in gevangeskap vry te laat met die oog op vreedsame onderhandelinge waar alle inwoners van SA op demokratiese wyse en op basis van een-mens-een-stem aan die land se bestuur sou kon deelneem.

1.8 Suid-Afrika word ’n multikulturele demokrasie in 1994

Die anderkant van die koloniale munt is dus dat Afrikaners sedert Uniewording in 1910 tot vandag toe vasgevang sit in ’n eenheidstaat wat die direkte gevolg van Britse kolonialisme is. Dit moet in gedagte gehou word dat nege swart etniese groepe, as deel van die destydse beleid van afsonderlike ontwikkeling, wel die geleentheid gebied was om oor hul eie grondgebied onafhanklikheid te kry nie. Vier van hierdie voormalige swart tuislande het inderdaad ook onafhanklikheid geniet teen 1994, alhoewel dit nie deur die internasionale gemeenskap erken is nie.

Voordat mnr. De Klerk die volgende algemene verkiesing uitgeroep het kragtens die RSA-grondwet onder apartheid, het hy mnr. Mandela in Februarie 1990 onvoorwaardelik uit die gevangenis vrygelaat en die sogenaamde apartheidsreferendum aangekondig  wat in Maart 1992 gehou is.

Op 26 Mei 1990 het dr. Treurnicht, toe leier van die amptelike opposisie in die parlement, voor ’n Afrikaner-gehoor van ongeveer 150 000 mense by die Voortrekkermonument ‘n toespraak gelewer met as titel: Die Derde Vryheidstryd het begin. Min het Afrikaners toe besef wat se visionêre toespraak dit in werklikheid was. Tydens hierdie toespraak het dr. Treurnicht spesifiek alle Afrikaners en in die algemeen alle blankes, by name die destydse president mnr. F.W. de Klerk, gewaarsku dat enige vorm van multikulturele demokrasie gebaseer op een-mens-een-stem ’n swart meerderheidsregering vir SA sou oplewer waarin Afrikaners se politieke mag sal verdwyn. Dr. Treurnicht het as alternatief selfbeskikking vir Afrikaners as minderheidsvolk in ’n eie grondgebied voorgehou. Toe mnr. F.W. de Klerk destyds gevra is oor die kwessie van selfbeskikking vir wit Suid-Afrikaners gedurende dieselfde pylvak, was sy antwoord die volgende:

Ons doen alles in ons vermoë om enige blanke vrese te besweer. U het niks te vrese van die Nuwe Suid-Afrika nie. Ons te onderhandelde wigte en teenwigte staan reeds vas soos die Rots van Gibraltar.”

Op 17 Maart 1992 moes Afrikaners in gemelde referendum  seker een van die belangrikste vrae in hul volksbestaan beantwoord, naamlik:

Is u ten gunste van die voortsetting van die Staatspresident (F.W. de Klerk) se hervormingsproses wat op 2 Februarie 1990 begin is en gemik is op die daarstelling van ’n nuwe grondwet deur onderhandeling?

’n Oorweldigende meerderheid het “JA” gestem op hierdie vraag.

Wat daarop gevolg het was die RSA se eerste demokratiese verkiesing op basis van een-mens-een-stem in April 1994, toe ’n swart meerderheidsregering onder die ANC aan bewind gekom het.  Die gevolge van demokratisering in 1994 is dat Afrikaners, wat as as volk op Afrikabodem ontstaan en dus waarlik inheems is maar met ’n duidelike erklenbare Westerse kulturele identiteit, skielik ingeperk is binne ’n multikulturele demokrasie waarin hulle stemkrag minder as 7% tel. Die proses is voltrek in ’n nuwe grondwet vir Suid-Afrika wat in 1996 van krag geword het. Die vertrekpunt van die nuwe liberaal-demokratiese grondwet was dat alle burgers van die RSA se menseregte beskerm sou word deur die toepassing van the rule of law.

Sedertdien transformeer die RSA-regering, wat uit ’n alliansie bestaan tussen die ANC (African National Congress), SA Kommuniste Party en die vakbondfederasie COSATU, deur middel van ‘n goed georkestreerde proses van verafrikanisering of ‘indigenization’ alle fasette van Afrikaners se bestaan, insluitend die regbank. Die betrokke kabinetsminister, Jeff Radebe, lê selfs klem op die feit dat die regbank nie voldoende en snel genoeg transformeer nie. Bevindinge van die hooggeregshof soos die een van regter Halgryn in 2011 waar Julius Malema, geskorste ANC-jeugleier, skuldig bevind is aan haatspraak omdat hy liedjies soos ‘Dubula iBhunu’ (“skiet die Boer’) sing, beteken nie veel nie want ons eie staatspresident, Jacob Zuma, gaan ten spyte hiervan onbelemmerd voort om dieselfde gewraakte liedjies te sing . Bowendien het die ANC se sekretaris-generaal, Gwede Mantashe, dieselfde dag op regter Halgryn se bevinding gereageer deur in die openbaar te sê dat sulke hofuitsprake die ANC nie aanstaan nie en dat dit die ANC-regering noop om die regbank nog meer en vinniger te transformeer. President Jacob Zuma het onlangs weer die regering se standpunte hieromtrent beklemtoon. Oudpresident F.W. de Klerk erken nou self dat die RSA se grondwet bedreig word, maar klou steeds onverbete vas aan dit wat ten grondslag lê van die onaanvaarbare lot waarin Afrikaners hulleself vandag bevind.

Die ANC-regering kan die Grondwet tans verander met ‘n tweederde meerderheid in die parlement. Die ANC het 65,9% steun in die algemene verkiesing van 2009 ontvang en daardeur 264 (66%) setels uit ‘n totaal van 400 setels in die parlement gekry. Wat ander partye met swart ondersteuners betref weet ons dat minstens die PAC, AZAPO en UDM waarskynlik die ANC sal steun in enige grondwetlike veranderinge.  Hierdie onhoudbare toestand wat betref Afrikaners as klein minderheidsvolk noop Afrikaners om na oplossings vir hul kulturele, ekonomiese en fisiese voortbestaan te gaan kyk buite die huidige grondwetlike bedeling.

Bogenoemde verwikkelinge ná 1994 het daartoe gelei dat OASE as drukgroep ontstaan het op in September 2011 om Afrikaners daarvan bewus te maak dat daar wel binne internasionale regskriteria en die riglyne van die internasionale gemeenskap ’n moontlikheid bestaan om eksterne selfbeskikking te kry op basis van territoriale soewereiniteit, of dan volle onafhanklikheid in ’n eie grondgebied.  OASE se doelwitte kan hier gelees word.

2. Afrikaners se internasionale regsaanspraak op grondgebied

2.1 Gebiedsafbakening

Die kwessie van die afbakening van grondgebied vir ’n volk se eksterne selfbeskikking is en bly redelik kontroversieel, aangesien daar nie duidelike internasionale regsvereistes bestaan waaraan die grondgebied of afbakeningsproses behoort te voldoen nie.  Die meeste internasionale regsgeleerdes is dit egter eens dat daar ’n sterk historiese verbintenis moet wees tussen die minderheidsvolk en die grondgebied wat opgeëis word vir eksterne selfbeskikking. Die mening van Lea Brilmayer in Secession and Self-Determination: A Territorial Interpretation, 16 YJIL, 177 (1991) vat dit goed saam:

“…’[t]he two supposedly competing principles of people and territory actually work in tandem.’ She continues: ‘[m]y thesis is that every separatist movement is built upon a claim to territory, usually based on an historical grievance, and that without a normatively sound claim to territory, self-determination arguments do not form a plausible basis for secession…..What makes a separatist movement’s claim to independence convincing is the possession of an historical claim that its territory was wrongfully annexed”.

In ’n opvolgartikel wat in 2000 verskyn het, brei dieselfde outeur verder uit op hierdie saak:

“In evaluating secessionist claims specifically, there are two different aspects of the claim on which one might focus. Traditionally, theorists had focused on the cohesiveness of the group asserting the claim – whether the group in question was a distinct ‘people’ in the religious, linguistic, or ethnic sense. There is another issue at stake, however: the objective validity of the claim that the particular group espouses. Thus (as I argued ten years ago) the claim to a particular piece of territory will be more or less convincing depending on the existence (or nonexistence) of a historical claim to land.”

In die verlede sou die internasionale regsbeginsel bekend as uti possidetis juris ’n ernstige struikelblok gevorm het vir Afrikaners se strewe na eksterne selfbeskikking spesifiek wat betref begrensing vir grondgebied. OASE se ondersoekspan het egter onomwonde vasgestel dat die betrokke regsreël geensins meer ‘n struikelblok hoef te wees in terme van minderheidsvolke wat vasgevang sit binne eenheidstate se strewe na eksterne selfbeskikking nie.

OASE se afgebakende gebied sluit hoofsaaklik dele in van die hoëveldgebied van provinsies wat vandag bekend staan as Vrystaat, Gauteng en Mpumalanga. Afrikaners se aanspraak op die betrokke dele van Noordwes-provinsie en die noorde van Kwazulu-Natal berus sowel op verowering tydens en net na die Groot Trek as sessie (ooreenkomste met stamhoofde) wat tot vandag toe kragtens die internasionale reg regsgeldigheid geniet, mits Afrikaners die gebied steeds permanent bewoon. Verowering van grondgebied ná 1945 word nie meer beskou as ‘n regsgeldige metode vir die verkryging van grondgebied beskou nie.

Die hele gebied wat OASE afgebaken het ter wille van eksterne selfbeskikking vir Afrikaners, vorm deel van ’n veel groter gebied waar Afrikaners  reeds vóór Britse kolonisasie soewereiniteit geniet het en wat Afrikaners deur Britse kolonisasie in 1902 kwytgeraak het. Die Afrikanervolk is enige tyd net sulke slagoffers van kolonisasie as enige ander volk in Afrika. Afrikaners het dus ’n baie sterk historiese verbintenis met die gebied wat OASE afgebaken het en waar hulle tot vandag toe die permanente besetters en die oorgrote meerderheid grondeienaars is.

Een van die grootste knelpunte in die debat rondom eksterne selfbeskikking is die argument dat Afrikaners nie aanspraak kan maak op hul eie grondgebied binne die RSA-eenheidstaat nie, omdat hulle kwansuis nêrens die meerderheidsbesetters is nie. Lesers moet kennis neem van die feit dat meerderheidsbesetting as sodanig nêrens in die internasionale reg as voorvereiste vir die verkryging van soewereiniteit beskou word nie. Dit is egter net logies dat ’n minderheidsvolk wat grondgebied opeis vir onafhanklikheid, nie sodanige onafhanklikheid sal kan laat realiseer indien hulle nie in die meerderheid is ten tye van demokratiese verkiesings ná verkryging van soewereiniteit nie.

Permanente besetting is wel ’n kriterium kragtens die Konvensie van Montevideo (1933) vir die totstandkoming van ’n nuwe staat. Die reg op selfbeskikking vir alle volke het lankal in die internasionale reg die status van erga omnes bereik, wat beteken dat alle soewereine state – ook dus die RSA-eenheidstaat – ondergeskik is aan hierdie internasionale regsbeginsel. Die kulturele aftakeling, ekonomiese ontmagtiging en die impak van geweldsmisdaad op Afrikaners as minderheidsvolk sedert 1994, laat hulle met geen keuse as om eksterne selfbeskikking op te eis in ’n eie territorium nie. Afrikaners se permanensie as inheemse volk van Afrika binne OASE se afgebakende gebied, bied aan OASE die nodige regsbasis om Afrikaners bewus te maak van hul onvervreembare reg op eksterne selfbeskikking binne die betrokke gebied. OASE se afgebakende gebied behels die volgende:

2.2 Grondgebied in die voormalige soewereine Zuid-Afrikaansche Republiek

Kragtens die Konvensie van Sandrivier  (1852) is die Zuid-Afrikaansche Republiek se soewereiniteit deur Groot-Brittanje erken oor die grondgebied wat bekend gestaan het as die Transvaal. In 1860 is die grondgebied van die Republiek van Utrecht in Noord-Natal by die ZAR ingelyf. In 1877 het Groot-Brittanje die ZAR se soewereiniteit geskend deur die gebied te annekseer wat uitgeloop het op die Eerste Vryheidsoorlog in 1881 en wat deur die Boere gewen is na die Slag van Majuba.

Die ZAR se soewereiniteit is egter eers weer na uitgerekte onderhandelinge in 1884 tydens die Konvensie van Londen erken. In 1888 is die grondgebied van die Republiek van Vryheid in Noord-Natal ook by die ZAR ingelyf. In 1902 het Groot-Brittanje na ’n uitgerekte oorlog, waarin nagenoeg 28 000 Afrikanervroue en -kinders in konsentrasiekampe dood is, die ZAR  verslaan en is republiek se totale grondgebied weer gekoloniseer.

In 1910 het die Transvaal ’n provinsie geword van die Unie van Suid-Afrika met selfregeringstatus en later met Republiekwording in 1961 het dit ’n provinsie gebly. Sedert demokratisering in 1994 is die Transvaal opgedeel in die volgende vier provinsies: Gauteng, Noordwes, Limpopo en Mpumalanga.

OASE se voorgestelde grondgebied vir Afrikaners se eksterne selfbeskikking wat deel uitmaak van die  ZAR tydens Britse kolonisasie in 1902,  beslaan slegs 15% van die ou Transvaalse grondgebeid van hierdie voormalige soewereine Boere-republiek.

Die afgebakende gebied beslaan 81% van die ou Republiek van Utrecht (1854) en slegs 39% van die ou Republiek van Vryheid wat alles deel was van die soewereine Zuid-Afrikaansche Republiek se grondgebied ten tye van Britse kolonisasie in 1902.

2.3 Grondgebied van die voormalige soewereine Republiek van die Oranje-Vrystaat

Kragtens die Konvensie van Bloemfontein is die Republiek van die Oranje-Vrystaat se soewereiniteit in 1854 deur Groot-Brittanje erken. Kort na die ontdekking van diamante in 1877 is die mees westelike deel van hierdie grondgebied deur Groot-Brittanje gekoloniseer. Na afloop van die Anglo-Boereoorlog waaraan die Republiek van die Oranje-Vrystaat as soewereine staat deelgeneem het, het Groot-Brittanje ook hierdie grondgebied verower en in 1902 gekoloniseer. Daarna is dit as provinsie opgeneem in die Unie van SA in 1910 en later in die Republiek van Suid-Afrika in 1961. Sedert demokratisering in 1994 staan die gebied bekend as die provinsie Vrystaat.

OASE se voorgestelde grondgebied vir Afrikaners se eksterne selfbeskikking wat deel uitmaak van die ou Oranje-Vrystaat soos wat dit in 1902 gelyk het, beslaan slegs 41% van hierdie voormalige soewereine Boererepubliek.

2.4 Opsomming van OASE se totale afgebakende gebied

OASE se voorgestelde grondgebied vir Afrikaners se eksterne selfbeskikking beslaan in totaliteit nagenoeg 9% van die RSA se totale oppervlakte en, alhoewel Afrikaners huidiglik slegs ongeveer 7% (nagenoeg 3 miljoen) van die RSA se totale bevolking uitmaak, moet dit in ag geneem word dat Afrikaners as meerderheidsgroep hierdie grondgebied sal moet deel met ander minderheidsgroepe ná afskeiding en verkryging van soewereiniteit. Hierdie aanspraak op die Afrikaner-hartland vir eksterne selfbeskikking sal nie as onbillik gesien word deur die internasionale gemeenskap nie, mits die proses wat gevolg word voldoen aan internasionale regsvereistes en die riglyne van die internasionale gemeenskap. OASE se afgebakende gebied kan op google maps duidelik waargeneem word.

Afrikaners vorm ’n veel groter meerderheid in die afgebakende gebied as wat sommige mense glo, aangesien Afrikane wat sedert 1994 die RSA vanuit die res van Afrika binnegestroom het geen aanspraak het op burgerskap in grondgebied wat tradisioneel Afrikaner-grondgebied is nie. Die VN se Deklarasie vir die Regte van Inheemse Volke is baie duidelik hieromtrent.

2.5 Die status van Afrikaner-grondgebied ná 1994

Die RSA-regering onder ANC-bewind swyg gerieflikheidshalwe oor die feit dat nege swart etniese groepe in die apartheidsera in ’n meerdere of mindere mate outonomie oor grondgebied binne die RSA-grense geniet het. Afrikaners het geen keuse nie as om op minstens dieselfde voorregte aan te dring ooreenkomstig Artikel 235 van die RSA se Grondwet, spesifiek wat betref die gebied wat as die Afrikaner-hartland beskou kan word en wat OASE vir eksterne selfbeskikking voorstel.

Sedert demokratisering in 1994 is Afrikaners se politieke status gereduseer tot ’n klein minderheid van nagenoeg 7% van die land se totale bevolking. Ten spyte hiervan het Afrikaners steeds groot grondbesitters gebly. Die RSA-regering het gevolglik begin om verskeie Afrikanerboere se plase op grond van restitusiewetgewing uit te koop en aan sogenaamde swart opkomende boere oor te dra as deel van hul grondhervormingsbeleid. Die ANC het egter self onlangs in die parlement erken dat nagenoeg 90% van sulke plase in onbruik verval het, totaal verwaarloos is en nie langer produktief is nie. Daar bestaan geen twyfel nie dat die ANC se vervreemding van Afrikanerboere deel is van ’n georkestreerde poging om Afrikaners van hul grond te verdryf.

Sedertdien begin die RSA-regering in toenemender mate hul grondhervormingsbeleid aanpas in die rigting van grootskaalse grondonteiening. Die voorgestelde wetgewing oor grondhervorming wat tans voor die parlement dien is verontrustend . Afrikaners se beskouing wat betref privaat grondbesit is deur hul Westerse voorgeslagte as deel van die Romeins-Hollandse regstelsel in die 17de en 18de eeu na Suid-Afrika gebring en word tot vandag toe deur Afrikaners gehandhaaf. Afrikaners kan en mag nie toelaat dat die Afrikastelsel van kommunale grondbenutting, erger nog, die Marxistiese stelsel van staatsbeheerde grond op hulle afgedwing word nie. Afrikaners geniet hierin die ondersteuning van die internasionale reg in die vorm van Artikel 1(1) van die VN se International Covenant on Civil and Political Rights, wat die volgende definisie gee vir selfbeskikking:

‘All peoples have the right of self-determination. By virtue of that right they freely determine their political status and freely pursue their economic, social and cultural development.’

Afrikanerboere staan daarvoor bekend dat hulle die beste voedselprodusente in Afrika is en alle Afrikaners in die RSA se fisiese voortbestaan is grootliks afhanklik van hul eie boere se reg op privaat grondbesit en om hierdie privaat grond aan te wend ter wille van Afrikaners se ekonomiese ontwikkeling, soos wat bogemelde konvensie dit duidelik stel. Hierdie internasionale regsbeginsel geld in selfs ’n groter mate waar die kwessie van grondgebied ter sprake is by inheemse volke, waarvan Afrikaners sonder twyfel een in Afrika is (selfs president Zuma het dit by geleentheid erken).

3. Gevolgtrekkings

Hoe gouer Afrikaners eksterne selfbeskikking opeis in OASE se afgebakende gebied op ’n wyse wat voldoen aan internasionale regsbeginsels en volgens die riglyne van die internasionale gemeenskap, hoe gouer sal hulle weer beheer oor hul eie lot kan neem en  nie uitgelewer wees aan die ANC en hul kommunistiese bondgenote nie. Dit is die enigste haalbare en volhoubare oplossing vir die bedreiging waarvoor Afrikaners in die 21ste staan en dit bied die enigste waarborge vir hulle kulturele, ekonomiese en fisiese voortbestaan in Afrika.

Sluit gerus aan en ondersteun OASE by hierdie skakel.

 

 

 

 

OASE OP OASE op YouTube
OASE op YouTube



Twitter Boodskappe