Monday, May 20, 2013

Vryheidsfront Plus se deelname aan die RSA-reënboognasie se staatkundige opset

Print Friendly

Tydens sy toespraak voor nagenoeg 150 000 Afrikaners by die Voortrekkermonument in Mei 1990, het dr. Andries Treurnicht, destydse leier van die Konserwatiewe Party, Afrikaners daarteen gewaarsku dat die implikasies van ‘n reënboogbestel fataal sal wees vir hul vrye voortbestaan. Dr. Treurnicht het mnr F.W. de Klerk, destydse leier van die Nasionale Party en president van die RSA, onder andere met die volgende woorde gewaarsku om nie Afrikaners uit te lewer aan ‘n multikulturele staatsbestel op basis van een-mens-een-stem nie: “…..’n meerderheid is ‘n meerderheid, is ‘n meerderheid… wat daartoe sal lei dat Afrikaners geen politieke seggenskap sal oorhou nie”.

Vandag, minder as 20 jaar nadat mnr. De Klerk en sy regering Afrikaners deur middel van ‘n misleidende referendumvraag waarop die meerderheid wittes “JA” geantwoord het in die gemors laat beland het waarin hulle nou verkeer, moet Afrikaners ‘n nuttelose stryd voer in ‘n staatkundige bedeling waarin hulle minder as 7% van die land se bevolking uitmaak en waar hulle politieke seggenskap basies tot nul gereduseer is. Erger nog, Afrikaners moet letterlik soos bedelaars voor die ANC en hul kommunistiese bondgenote kruip vir die spreekwoordelike broodkrummels wat van die tafel afval. Waar Afrikaners eens die vaandeldraers van ‘n ontwikkelde Suid-Afrika was wat die juweel van ons kontinent genoem is, het ons binne 18 jaar verval tot ‘n klein minderheidsvolk in ‘n onderontwikkelde land met ‘n burokratiese, korrupte en werklik onbevoegde ANC-regering aan bewind. Die enigste bydrae wat miljoene Afrikane gemaak het om beheer oor dit wat eens ‘n juweel in Afrika was te kry, is hul meerderheidsgetalle. Dít is die gevolge van mnr. De Klerk en sy derdespan onderhandelaars se besluite waarteen dr. Treurnicht ons destyds gewaarsku het.

Die Vryheidsfront Plus, wat ‘n soort voortvloeisel van dr. Treurnicht se Konserwatiewe Party is, se partygrondwet bepaal uitdruklik dat die party hom sal beywer vir Afrikaners se vryheid op basis van eksterne selfbeskikking. Sedert die party se totstandkoming het daar niks hiervan gekom nie. Inteendeel, die partyleier dr. Pieter Mulder, sit vandag in die ANC se kabinet waar hy kwansuis na sy mening vir Afrikaners iets kan beteken. In onlangse tye neig die VF+ se gedagtes skielik na Orania in die semi-woestyngebied van die Noord-Kaap waar daar minder as 1000 Afrikaners woon, ten spyte van prof. Carel Boshoff en sy volgelinge se volgehoue maar waardelose pogings oor meer as twee dekades om Afrikaners in groot getalle daarheen te lok.

Afrikanerboere, wat bekend is vir hul kundigheid om ekonomies winsgewend en op groot skaal voedsel te produseer in Afrika, verlaat die RSAen gaan boer elders in Afrika en in lande soos Georgië, eerder as om ‘n heenkome te probeer vind in die Noord-Kaap. Hierbenewens het meer as ‘n halfmiljoen Afrikaners sedert 1994 die RSA verlaat om elders in die wêreld te gaan woon, hoofsaaklik as gevolg van regstellende aksie op die arbeidsfront en hoë vlakke van ernstige misdaad. Bowendien is daar soveel faktore rondom die Orania-gebied wat veroorsaak dat Afrikaners nie soewereiniteit daar sal kan geniet nie, dat dit ‘n mors van tyd is om dit selfs net te oorweeg as ‘n heenkome vir meer as 3 miljoen Afrikaners. Nagenoeg 1,5 miljoen Afrikaners woon reeds geslagte lank in OASE se voorgestelde en afgebakende gebied waar Afrikaners hul vryheid regsgeldig kan en behoort op te eis.

Sedert dr. Mulder se aanvaarding van die kabinetspos as adjunk-minister van landbou in die ANC-kabinet, sukkel hy om hond haar af te maak vir die voortbestaan van nagenoeg 30 000 wit kommersiële boere wat nog oor is in die land, en gaan die ANC byna daagliks voort om wit boere deurlopend te treiter met allerlei dreigemente van strenger arbeidswetgewing vir plaaswerkers, uitbreiding van swart plaaswerkers se verblyfregte, grondonteiening en dies meer. Dit is nou bo en behalwe die skreiende vlakke van veediefstal, diefstal van plaastoerusting, brandstigting en les bes plaasaanvalle wat getuig van die barbaarsste en wreedste moorde denkbaar op Afrikanerboere en hul gesinne, en waaraan dr. Mulder se betrokkenheid by die ANC-regering geen duit kan of sal verander nie. Net soos wat dr. Mulder en alle ander opposisiestemme nie kon verhoed dat die ANC grondeienaars se privaat mineraalregte onteien het sonder enige vergoeding nie, net so sal die ANC nie ophou totdat hulle wit boere se grond ook op Zimbabwe-styl gevat het nie.

Dit is lankal duidelik dat dr. Mulder, met Agri SA en ‘n klein groepie elitiste binne die VF+ aan sy kant, nie bereid is om ernstig vir Afrikaners eksterne selfbeskikking te beding nie. In werklikheid is die mandaat wat dr. Mulder van Afrikaners geniet nie veel groter as wat die VVK met hul ultraregse doelwitte en werkswyses geniet nie, maar omdat hy in die gatkruipposisie van ‘n ANC-kabinetspos as adjunk-minister sit, wek dit die skyn dat hy Afrikaners in groot getalle verteenwoordig. Dit is tyd dat dr. Mulder vir Afrikaners in die openbaar sê of hy as leier van die VF+ van voorneme is om sy eie party se grondwet na te volg deur eksterne selfbeskikking vir Afrikaners ernstig op te neem, en of hy Afrikaners vasgevang gaan hou binne die huidige grondwetlike bestel met Orania as belaglike virtuele heimat vir die Afrikaner.

Intussen moet enkelinge binne die VF+ soos mnr. Philip van Staden, verkose leier van die VF+ in Pretoria, sy keel hees en sy hande stomp baklei net om te verhoed dat historiese Afrikaanse straatname in Pretoria deur die ANC verander word. Opstandelinge binne die VF+ wat eksterne selfbeskikking vir Afrikaners nastreef word met geen keuse gelaat as om uit die party te bedank nie, soos pas weer in die geval van die jong Francois Cloete, en in sommige gevalle selfs geskors, soos in die geval van mnr. Marthinus Janse van Rensburg toe hy dit gedurf waag het om ernstig protes aan te teken teen dr. Mulder se aansluiting by die ANC-kabinet. Om alles te bekroon, bly die Demokratiese Alliansie se verkose raadslede in Pretoria buite stemming wanneer dit oor sulke sake gaan en help dit die ANC om hul georkestreerde aftakeling van Afrikaners se kultuur ongehinderd voort te sit. En dit van alle plekke in die hartland van Afrikaners waar baie van hulle in die laaste munisipale verkiesing in Pretoria vir die DA gestem het, juis sodat daar sterker opposisie teen die ANC kan wees. So sien ons daagliks hoedat dr. Treurnicht se waarskuwings bewaarheid word en hoedat Afrikaners se kultuur stuk vir stuk afgebreek word, totdat daar uiteindelik niks gaan oorbly waarop ons as volk trots kan wees nie.

Die aftakeling van ‘n volk se kultuur en waardestelsel is tipies die gevolge van ‘n multikulturele staatsbestel waarin klein minderheidsvolke geen seggenskap het nie. Daar is al heelwat navorsing gedoen oor die uiters negatiewe sielkundige impak wat hierdie aftakelingsproses op die individue van so ‘n minderheidsvolk het en Afrikaners is geen uitsondering in hierdie verband nie. Intussen gaan die ANC-regering voort om Afrikaners ekonomies te ontmagtig en die gevolge hiervan is dat meer as 600 000 Afrikaners reeds werkloos en totaal verarm is. Laastens word Afrikaners in groot getalle uitgemoor deur Afrikane op ‘n skaal wat die internasionale organisasie Genocide Watch op vlak 5 van 8 moontlike vlakke van volksmoord plaas.

Tydens die onderhandelinge wat tot die huidige RSA-grondwet (1996) gelei het, was Afrikaners in ‘n sterk bedingingsposisie waar dit baie maklik sou wees om te sorg dat hulle reg op selfbeskikking en veral eksterne selfbeskikking gewaarborg kon wees, maar mnr. De Klerk en sy onbevoegde onderhandelingspan het dit nie gedoen nie. Alhoewel eksterne selfbeskikking steeds haalbaar is, verg die proses geweldige toewyding van kundiges en gemotiveerde leiers om te sorg dat dit binne die vereistes van die internasionale reg en die riglyne van die internasionale gemeenskap geskied. Hierdie proses is tydsaam en sal nie net baie geld kos nie, maar ook groot opofferings van Afrikaners verg, maar wat sonder twyfel op die lang duur die moeite werd sal wees. Dit is duidelik dat die huidige geslag Afrikanerleiers, wat maar al te graag die ANC ter wille is met die hoop op die spreekwoordelike broodkrummels wat van die tafel afval, nie die ‘balls’ het om te sorg dat Afrikaners weer vryheid in hul eie land geniet nie.

Enige deelname van Afrikaners aan die huidige politieke bestel is en bly futiel as ons met ons eiesoortige Westerse kultuur en waardestelsel wil voortbestaan aan die suidpunt van Afrika. Daar is eenvoudig geen ander uitweg as eksterne selfbeskikking op basis van territoriale soewereiniteit nie. Hoe meer Afrikaners die OASE-weg volg, hoe gouer sal ons waarborge in plek kan kry vir ons volk se kulturele, ekonomiese en fisiese voortbestaan in Afrika.

 


Kommentare gesluit.

 

OASE OP OASE op YouTube
OASE op YouTube



Artikel7

Twitter Boodskappe