Tuesday, May 21, 2013

Vryheidsfront Plus en Afrikaners se reg op selfbeskikking in ’n eie grondgebied

Print Friendly

Dr. Pieter Mulder, leier van die Vryheidsfront Plus en adjunk-minister van landbou in die ANC-beheerde kabinet, het pas aan ’n gesprek deelgeneem op The Justice Factor-program op eNews rakende sy onlangse uitlatings in die parlement oor grondhervorming in SA. Dr. Mulder het homself goed gehandhaaf tydens die TV-gesprek, maar was op tipies hedendaagse politiek-korrekte styl apologeties oor sekere sake. Dit is werklik ‘n groot jammerte dat daar in sommige Afrikaner-geledere ‘n “fighting spirit” ontbreek en dat daar as’t ware aan dieselfde minderwaardigheidskompleks gely word as na afloop van die Anglo-Boereoorlog in 1902. Afrikaners het geen rede om  ’n minderwaardigheidskultuur te ontwikkel oor enigiets nie. Die gerespekteerde historikus, prof. Hermann Giliomee, wat nie bang is om sy man te staan nie, het ook intussen tot die polemiek oor historiese grondbesetting toegetree.

Die onderhoudvoerder van eNews, Justice Malala, het dr. Mulder skerp aangeval oor sy onlangse stelling in die parlement dat nagenoeg 40% van die RSA se grondoppervlakte nie deur Bantoe-taalsprekendes beset was toe wittes vir die eerste keer in Suider Afrika inbeweeg het nie. Dr. Mulder het oudergewoonte in die gesprek weggeskrum van sake soos historiese en teenswoordige grondbesetting, en die debat weer eens probeer dryf na die kwessie van voedselsekerheid. Dr. Mulder se gebruik van die woord “Bantoe” tydens sy parlementêre uitlatings is ook aangeval deur Justice Malala, maar die adjunk-minister het dit wel binne die konteks van Bantoe-taalsprekendes suid van die ewenaar verduidelik – iets waarmee baie hedendaagse Afrikane sukkel omdat hulle die woord bantoe in hul onkunde as ’n skeldwoord uit die apartheidsera beskou.

Dit is duidelik dat dr. Mulder die multikulti-bestel in SA as gegewe aanvaar in al sy argumente en dat daar by hom weinig sprake is van selfbeskikking vir Afrikaners, ten spyte van dit wat die RSA- en sy eie party se grondwet hieroor bepaal . In die TV-gesprek gee dr. Mulder nie net erkenning aan die multikulti-bestel in  SA nie, maars selfs ook aan die Freedom Charter.  Dr. Mulder het darem interessante statistieke bely waaroor daar heelwat bespiegelinge is in die openbaar, naamlik dat nagenoeg 37 000 wit boere verantwoordelik is vir die produksie van 99% van die land se voedsel. Ook dat 9 uit elke 10 plase wat sedert 1994 deur die RSA-regering oorhandig is aan sogenaamde swart opkomende boere onsuksesvol is en haas geen voedsel produseer nie. Dr. Mulder het ook gemeld dat die RSA-bevolking op ongeveer 50 miljoen staan en onderweg is na 58 miljoen sonder om teikendatums te vermeld.

Vir OASE is dr. Mulder en Agri SA se voortdurende fokus op voedselsekerheid irrelevant en selfs ietwat belaglik, want ons sukkel om te begryp waarom 37 000 wit boere, waarvan die meerderheid Afrikaners is, verantwoordelik hoef te wees vir die onderhoud van nagenoeg 50 miljoen Afrikane wat oënskynlik nie vir hulself kan sorg nie. Met apartheid of die regstelling van foute uit die verlede het dit werklik niks te make nie, anders sou Zimbabwe en soveel ander Afrika-lande wat nooit apartheid geken het nie, toonbeelde van voedselproduksie moes gewees het. Dr. Mulder verwys dan self in sy TV-gesprek na die nagenoeg 800 Afrikanerboere wat reeds elders in Afrika  suksesvol boer nadat hulle SA sedert 1994 verlaat het, en na die groot aanvraag vir dieselfde kundige boere in Georgië waar daardie land se landbouproduksie na die val van kommunisme byna tot stilstand gekom het. Intussen stem die oorgrote meerderheid van Afrikane in SA  vir die ANC wat alles in sy mag doen om Afrikanerboere te vervreem en van hulle plase af weg te kry. Om te argumenteer dat die regering boere se plase moet uitlos omdat hulle die land se voedsel produseer, is dieselfde as om te argumenteer dat dorps- en straatname nie verander moet word nie omdat dit geld kos. In beide gevalle is die redes vals en almal weet dit. Dit is tyd om reguit te sê dat die ANC hulle kloue moet afhou van goed wat nie aan hulle behoort nie en om aan hierdie woorde substansie te gee.

Om sake te vererger bly dit nie by 50 miljoen wat van voedsel voorsien moet word nie, maar stroom Afrikane uit die res van swart Afrika jaarliks in hul duisende oor die RSA se grense omdat die regering onwillig is om behoorlike grensbeheer toe te pas of omdat sommmige amptenare onbevoeg en ander uiters korrup is wat sulke belangrike regeringstake moet uitvoer. Die blote gedagte aan so ’n minderheidsgroepie kundige Afrikanerboere wat vir soveel miljoene moet sorg is wat OASE betref absurd, byna net so absurd soos die links-liberales in Nederland en ander Wes-Europese lande wat dink dat hulle die hele wêreld se asielsoekers in hul lande behoort te akkommodeer. In Afrikaners se stamlande in Europa laai die weerstand toenemend op teen sogenaamde allogtone (vreemdelinge), omdat hierdie nie-Wes-Europeërs vir die tradisionele bevolking van daardie lande werklik ’n bedreiging inhou. Die Nederlandse Partij voor de Vrijheid, waarvan mnr. Martin Bosma as onderleier die afgelope week besoek aan ons land afgelê het,  is juis ’n party wat hul eie mense bedag maak op hierdie toenemende bedreiging en wat duidelik veld wen onder gewone Nederlanders.

Afrikaners, wat nog altyd ’n baie klein minderheid in SA was, ken hierdie bedreiging sedert hul Westerse voorsate saam met Jan van Riebeeck in 1652 voet aan wal gesit het aan die Kaap die Goeie Hoop. Van Riebeeck en sy VOC-amptenare moes redelik gou na hulle aankoms ’n aantal forte bou om Khoi-aanvalle en -veediewe weg te hou, die name waarvan Keert de Koe en Houd den Bul boekdele spreek. Veediefstal dwarsoor post-apartheid Suid-Afrika herinner aan die difaqane-era waar duisende stuks vee deur veral Nguni-sprekende Afrikane van Sotho-Tswana-sprekendes geroof is, maar wat ook aan die orde van die dag was aan die Oos-Kaap waar Afrikaners se voorsate teen ongeveer 1789 vir die eerste keer in noemenswaardige getalle met swart Afrika-stamme in aanraking gekom het. In die winter van 2011 het Afrikanerboere eerstehands ervaar wat hulle voorsate op die hoëveldse grasvlaktes en die binnelandse savannahstreke aangetref het toe hulle tydens die Groot Trek die verwoestende gevolge van die difaqane moes aanskou en waarvan Westerse sendelinge se geskrewe bronne so duidelik getuig.

Die  verskynsel dat Afrikanerboere op hul plase aangeval en uitgemoor word sedert 1994, word steeds deur die regering en selfs Agri SA afgemaak as gewone misdaad.  Afrikaners wat vriende of familie het wat slagoffers van sulke plaasaanvalle en aanvalle op Afrikaners in dorpe en stede was, weet met watter gruwelike geweld hierdie aanvalle gepaard gaan. Sulke barbaarse optrede deur Afrikane kom op niks anders neer as die tradisionele intimidasieveldtogte soos wat elders in post-koloniale Afrika, veral in Zimbabwe ook die geval was nie. Afrikaanse koerante, die ANC en politiek-korrekte Afrikaners sal nie veel langer daarin slaag om die meerderheid Afrikaners te vertel perdedrolle is vye nie.

Ten spyte van die ergste denkbare struikelblokke en trauma wat Afrikaners in hul geskiedenis vir meer as 300 jaar moes trotseer, het hulle ’n duidelik erkenbare Westerse identiteit behou waarby apartheid as staatkundige bedeling minder as 50 jaar inslag gevind het in Afrikaners se geskiedenis. Inussen is apartheid vir alle praktiese doeleindes ‘ancient history’, behalwe vir die rasbehepte ANC, sy bondgenote en ’n groepie linkse elitiste in Afrikaner-geledere.  Die ANC en hul bondgenote doen alles binne hul vermoë om Afrikaner-geskiedenis te herskryf, selfs ten opsigte van die oudste gebou in Kaapstad, die VOC-fort.  Afrikaners mag nie toelaat dat die kortstondige apartheidsbedeling van die verlede hul toekoms vir ewig bepaal nie. Afrikaners mag veral nie toelaat dat die ANC dit as verskoning gebruik om mede-Afrikaners te verkleineer, te besteel of uit te moor nie.

Dit is Afrikaners se basiese mense- en minderheidsreg om oor hulleself te mag beskik. Soos die Engelse uitdrukking dit stel: “Charity begins at home”; dit is waar Afrikanerboere se fokus nou behoort te wees en nie by die voedselsekerheid van miljoene Afrikane wat Afrikaners en hul kundigheid nie bestaansreg in Afrika gun nie. Tog volhard Afrikaner-leiers, soos dr. Mulder, daarin om weg te skrum van konfrontasie oor die eintlike saak, naamlik die Afrikaner se onaanvegbare bestaansreg in Suid-Afrika. Miskien het diegene met die middele om te lei te veel om te verloor in sodanige konfrontasie. Hoe dit ookal sy, lank lewe Afrikaner-selfbeskikking en uiteindelik ook soewereiniteit in ’n eie grondgebied.


Kommentare gesluit.

 

OASE OP OASE op YouTube
OASE op YouTube



Artikel7

Twitter Boodskappe